Wat het jy?
Die vyf meisies met die los hare het mooi geglimlag. Matriekulante op die drumpel van die grootmenswêreld. Dit kon netsowel my dogter gewees het. Hy het hul uitgevra oor hul drome en wat hulle graag sou wou wees. Een vir een het hy deeltjies van hul lewensverhaal uit hul getrek. Die seerkry was duidelik as hul die term gebruik: kinderhuiskinders. Een al daar vir vyftien jaar.
Die man aan die woord is die fotograaf. Sy geskenk vir hulle is ‘n spesiale fotosessie vir elkeen. Hulle glimlag verras. Hy is ‘n bekende fotograaf wat in groot kringe beweeg. Hy gee wat hy die beste kan doen.
Dis Desember, maar om een of ander rede voel dit of die jaar net te veel spoed optel. Die werk is druk en die verwagtinge oral nog hoog. Selfs die langbeplande kampnaweek voel na werk as ek koorsagtig hardloop om die laaste kosgoedjies te kry. Wanneer die tent eindelik opgeslaan is en ek in my kampstoel neerval, kom ek dankbaar tot stilstand. Ek haal diep asem. Rus vir my siel.
In die week het ek in die Markus-evangelie gelees van die dissipels wat teruggekom het nadat Jesus hulle uitgestuur het. Dalk was hul net so moeg en oorweldig deur dinge. Jesus maak ‘n voorstel: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus’n bietjie.” Dit klink soos musiek in my ore.
“Baie mense het hul egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom.” My moed sou in my skoene sak. Dalk is dit die tyd wat ek sou sê, genoeg is genoeg. Gee ons net ‘n break!
“Jesus het die groot menigte mense daar gesien en hul innig jammer gekry….” Toe dit al baie laat was het Sy dissipels voorgestel dat Jesus die mense terug stuur om kos te gaan koop. Sy antwoord skok hul waarskynlik: “Gee julle vir hulle iets op te eet.” Ek kan my net voorstel wat hul moes dink. Eintlik was hul veronderstel om te rus en nou verwag die Here van hul om kos te gaan koop met geld wat hul ook nie gehad het nie. Jesus het ‘n ander plan. “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”
Ons ken die verhaal verder. Van die seuntjie met die 5 broodjies en twee vissies. Meer as 5 duisend mense wat kos gekry het en twaalf mandjies wat oorgebly het….
Xxxx
Dis amper kersfees. Die wêreld is deurmekaar. Ons is moeg en in baie opsigte het ons ook genoeg had van mense en hulle dinge. Jesus sien die menigte raak en kry hulle jammer. Baie is maar steeds soos skape sonder ‘n wagter. Soekend na ‘n wonderwerk of net ‘n beter lewe. Jesus vermeerder nie die geld nie maar Hy vra wat hulle het. ‘n Groot taak begin met ‘n klein opdrag: gaan kyk.
Jesus breek die brood en dit raak genoeg vir baie. Die fotograaf gee wat hy het. Sy tyd en gawes. Die word ‘n video wat harte bereik en die pad na hul drome wyer oopkap. Iemand het gaan kyk en raakgesien. Dan die bonus. Jul studies word betaal.
In my kampstoel kry ek nuwe krag. Ek is dankbaar vir ‘n oomblik se asemskep. Die jaar lê op sy rug en Kersfees is om die draai. Die wêreld is steeds honger. “Kyk wat jy het en gee dit vir my.” Ek hoor Sy stem duidelik. Ek sug verlig. Dis Hy wat die broodjies sal breek.