Sit die glas neer
Kan jy ‘n glas vashou? Die studente het gelag. Die professor was ernstig. Wat gaan gebeur as jy dit te lank moet vashou? Na ‘n uur gaan jou vingers moeg word, dan jou arm en kort voor lank jou skouer. Miskien gaan jy later selfs die glas laat val. Wat is die oplossing, wou hy by sy studente weet. Die antwoord was eenvoudig. Jy moet die glas betyds neersit.
In die middel van die nag onthou ek hierdie storie. Ek sukkel om te slaap. Ek is bekommerd oor my kind se arm, die eksamen, my hond se poot, ‘n pasient….die lysie is lank. Eintlik kan ek in die nag niks doen aan enige van die probleme nie…..behalwe om daaroor te bid.
Dan onthou ek die lied: “Ek bring al my kommer vir U. Ek lê al my laste neer voor U troon. Elke keer as ek nie weet wat om te doen, dan bring ek my kommer vir U. ”
Psalm 16 word my werklikheid….selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer…..Een vir een sit ek my probleme neer. In die oggendure is daar planne. Ek bel ‘n ortopeed, maak ‘n afspraak by die veearts en volg my pasient op. My lysie word korter en my kommer minder.
Ons het nie altyd ‘n keuse watter pakkies ons kry om te dra nie, maar ons het ‘n keuse om dit na die troonkamer te vat. Jesus nooi ons om dit neer te sit.
Die pasient is beter. My kind tel die raket weer op. Ek vind nog vraestelle vir die eksamen. ‘n Nuwe dag. Nuwe krag. Ek tel die glas weer op. Dis maklik om vas te hou as ons kan leer om dit so nou en dan ook neer te sit.