Advent in ‘n grys wêreld
Ons het kerssangliedjies geoefen vir die kerssangdiens. Daar was viole, kitare, dromme, kinderstemme en bekwame musikante. Ons het gesing van herders, Betlehem, baba Jesus en sy ma Maria. Stille nag en Somerkersfees. Buite was dit koelerig. Asof die somer gesukkel het om sy kop uit te steek. Baie soos kersfees… Jy weet dis veronderstel om hier te wees maar covid se ontydige variant vorm grys wolke rondom ons. Die lig sukkel om deur te breek.
In die week besoek ek die jong man wat my pad gekruis het toe sy kar een nag teen die boom langs my huis beland het. Dis 4 maande later. Die afspraak word vroegtydig bespreek want dis ‘n ver ent se ry. Twee sekuriteitshekke en ‘n kronkelpad later stop ek by die Rehabilitasiehuis waar hy versorg word. Ek haal my kitaar uit. Steeds nie seker of ek die lied op my hart moet sing nie. Hy glimlag skeef toe ons ontmoet. Die kuif van die nag is weg en vervang met ‘n litteken op sy voorkop wat my herinner aan die wond. Ons praat oor die ongeluk en ek help hom om die prentjie in te kleur. Ek het nie antwoorde vir sy stywe arm en been en die brein wat nog sukkel om te onthou nie. Sy rehabilitasie het nog ‘n lang pad. Tog is hy dankbaar dat hy leef. ‘n Desember kalender is op sy rolstoel vasgeplak om die datums te onthou. Hy sug ‘n bietjie. ‘n Eensame kersfees lê voor. Met covid mag jy nie uit en weer terugkom nie. Agter sy glimlag sien ek die hartseer. Die pad vorentoe is grys en onseker. Ek haal my kitaar uit en tokkel die note: “One day at a time, Lord Jesus….” Dis al wat ek eintlik kan sing. Ek bid vir saadjies van hoop….
Die goedversorgde vrou kom met ‘n ompad by haar klagte uit. Sy loop al 3 maande met die kliere in haar lies. In remissie van haar vorige klierkanker. Op ‘n manier verstaan ek. Jy hoop mos maar dat dinge self beter sal raak. Dis immers amper kersfees….
The world waits for a miracle
The heart longs for a little bit of hope
Oh come Emmanuel...
A child prays for peace on earth
And she's calling out from a sea of hurt
Oh come Emmanuel
Die lied van Lauren Daigle praat met my. Die wêreld bly soek en mense smag na hoop. Te midde van die donker wolke beleef ek die krag van lig. Ek ervaar ‘n dringendheid oor die kersliedjies. Advent is immers die tyd waar ons herinner word aan die ‘miracle’ van hoop. “O die goeie tyding, o die blye tyding….helder klink dit met kersfeestyd.”
Ek dink aan die jong man in die rehabilitasie sentrum. Agter die hekke is daar baie soos hy wat opnuut weer moet leer loop. Ek dink aan my pasiënt met die nuwe kliere, waar chemo ‘n onwelkome kersgeskenk geword het. Ek hoor van baie wat kersfees alleen gaan deurbring. Dan dink ek aan ons sorglose oefen in die kerk. Tussen dromme, kitare, viole en ‘n orrel het ons die wonderlike voorreg om mense terug te neem na Betlehem en ‘n oomblik te stop. Immanuel: God met ons.
So baie smag na hoop, ‘n wonderwerk. Mag ons lampies helder skyn in hierdie tyd.
The drought breaks with the tears of a mother
A baby's cry is the sound of love
Come down Emmanuel
You are the song for the suffering
You are Messiah, Prince of Peace
Light of the world....
Ook vandag