Matriekulant…’n gedig
Ek vee die kombuistafel af
Daar is ‘n knop in my keel
Ek hoor die volla by die hek uitbrul
Jys oppad, dis jou laaste vraestel van matriek.
Vlieg hoog my kind wil ek roep
Hou vas skree my hart dit uit
Gryp die dag
Pasop vir die nag
Ek sien op facebook fotos van baie ander
Bosveldvoëltjies, Strand, Stellenbosch, Randburg en Somerset-Wes
Almal gereed vir die wedloop daar buite
Nessies skud rond terwyl ouers eenkant staan en kyk
Waar is die haasbek tog van vroeër?
Tassies met kosblikke vol broodjies en verrassings
Hier staan hul nou, sommige lewenslank
Ander met krulle en kuiwe wat wip in die wind
Gereed om te vlieg
Die lewe lê voor
Hou vas my kind
Wil ek uitroep, bid ek sag
Hou vas aan jou drome
Bou kastele en volg die son
Kyk op na bo
Stoot jou wortels diep na onder
Hy wat jou gelei het tot hier
Is die Een wat jou ook nou uitstuur
Vlieg hoog my kind
Die Arend waak oor jou
In Sy hand is jy veilig
Daar waar ek nie meer kan wees
Kyk altyd op, met jou wortels in die grond
Kan jy vlieg my kind op die vleuels van die wind.