Op die verhoog
Haar skouers het gehang toe ek haar oplaai. Ek kon die teleurstelling op haar gesiggie sien. Sy het nie ‘n rol gekry nie.
In die boekie Who moved my cheese, het die kaas ook opgeraak. Jy kon kla, vingers wys en in ‘n hopie gaan sit, of soos die muise in die storie jou tekkies aantrek en nuwe kaas gaan soek. Ek het haar hartseer gesien en besef dat ons ander geleenthede moet skep.
My vingers het die soek-knoppie op my foon gedruk en ‘n nommer geskakel. Sy het deel geword van ‘n drama klas. Ek het altyd gewonder wat binne in die klas gebeur want die dogtertjie wat ek afgelaai en weer opgelaai het was twee verskillende kinders. Die stywe skouers het in ‘n borrelende lyfie verander.
Agt jaar later sit ek in die teater. Ek verkyk my aan jonk en oud. Van die katjie, die feetjies en kaboutertjies, snaakse sersant tot die kwaai kaptein, dokters en verpleegsters. Rolle te kies en te keur. Vir elkeen ‘n plekkie. Dan is daar my oudste. Haar gesig stralend. Sy leef haar uit in haar karakter. Die eendjie het ‘n swaan geword.
Aan die einde van die week is daar weer trane. Hierdie keer van dankbaarheid. Die stywe druk vir haar juffrou vertel van kanse en geleenthede en ‘n plek op ‘n verhoog. Niemand is geweeg en te lig bevind nie. ‘n Voorreg in vandag se tye.
Daar sal altyd rolle wees wat jy nie kry nie maar as jy bereid is om jou tekkies aan te trek sal jy dalk verbaas wees op dit wat op jou wag. Timoteus het gedink hy is te jonk. Moses kon nie praat nie en Paulus sit met ‘n doring in die vlees. Die Here kyk anders. Uiteindelik word hulle Sy instrumente.
Ek dink aan ons lewe wat ook op ‘n manier ‘n verhoog van kanse is. Hoe wonderlik as ons kan ontdek dat ons vry kan wees in wie ons is. Dat die skepper jou uniek gemaak het en dat jy in Sy oë nooit te lig bevind word nie. Ek lees in Psalm 34 dat die Engel van die Here sy laer opslaan rondom die wat Hom dien. Ek sien in my geestes-oë die vlerke rondom my kinders terwyl hul in hierdie wêreld stap. Ek bid dat hulle met geloof en vertroue dit sal regkry om hulself te wees maar ook om te groei en geleenthede aan te gryp.
Vandag sê ek dankie vir Ira, vir haar passie en ‘n omgewing waar kinders net kan wees. Vir karakter boustene en soveel meer.
Die grootste vryheid is om te ontdek dat jy goed genoeg is in wie jy is. Dat jy hier is vir ‘n rede. Sefanje 3 raak die Engelvlerke rondom ons veral wanneer die lewe skewe houe uitdeel: “Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” In sy oë is jy kosbaar en meer as goed genoeg. Eendjie of swaan. Irrelevant. Jy is perfek vir die rol. Punt. Sonder ‘n komma.