Album van drome
Wat droom jy vir jul skool? Die vraag het hom onkant gevang. Vir my was dit skielik belangrik. Nie soseer oor die skool nie maar omdat drome belangrik is. Ek wou vir hom en die ander kinders herinner dat jy dinge kan bereik of verander wanneer jy daaroor begin droom….Ek wou myself dit herinner.
Dalk het alles begin met my pa se 80ste verjaarsdagviering. Ek het besluit om ‘n tydlyn op te stel en het sy jare in dekades opgedeel. Elke kleinkind het ‘n dekade van gebeurtenisse gelees. Ter voorbereiding het ek in albums begin soek na fotos van elke stadium. Kleintyd, universiteit, troufoto’s, kinders, vakansies, hoogtepunte en laagtepunte. My vingers het stadiger geblaai. Die nostalgie het my oorval. Oomblikke wat was. Sommige met drome wat waar geword het, ander bloot kosbare herinneringe.
Wanneer laas het ek gedroom? Dalk het covid gemaak dat ons eenvoudig net begin oorleef het. Te veel vakansieplanne het immers in die slag gebly. Dinge soos gesondheid en geliefdes bymekaar, het belangriker geword. Tog het ek die dringendheid ervaar om my drome weer neer te skryf en aktief te begin najaag. Die besef dat die tyd aanstap het my oorweldig. Daar was ‘n tyd toe my ouers net so jonk soos ek was…waar hul berge kon klim en avonture kon aanpak.
In my binneste het ek onthou dat Jesus gekom het sodat ons kan lewe…in oorvloed. Dat ons op die wiel van die lewe klim om die uitsig te geniet maar ook om ‘n verskil te maak. Dat ons nooit te oud, of te jonk is om te mag droom nie. Terwyl ek uit Kleinmond ry het ek onverwags die reënboog in die kloof gewaar. In die bewolkte weer was die gras donkerder en die prentjie treffend. Ek het gestop en uitgeklim. Vrede ingeasem. Skep moed, het ek Sy stem gehoor….begin met die werk….”Start where you are, use what you have, do what you can.” Begin weer droom.
Terwyl my seun steeds oor my vraag wonder vertel ek hom van God se droom: “Ek weet wat ek vir jou beplan: Voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir jou’n toekoms gee, ‘n verwagting….” Jeremia 29
Ek tel my pen op en begin weer skryf. Drome. Planne. Reënboog-oomblikke. Ek gee dit in God se hand. Lewe in oorvloed. Sy droom vir my.