Blou rokkie
Vir my 6de verjaarsdag het ek ‘n ligblou rokkie met wit knopies persent gekry. Ek wou dit dadelik aantrek maar my ma het voorgestel dat ek dit eers die middag aantrek vir my partytjie. Ek wou niks daarvan hoor nie en is met beloftes van skoonhou opgewonde kleuterskool toe.
Ten spyte van my beste pogings was dit nie lank nie voor ‘n modderkollejie op die rabbadoe se rokkie verskyn het. Ek het na die kraan gehardloop en met nat handjies die kolletjie probeer skoon maak. Nodeloos om te sê het die kolletjie in ‘n reuse bruin vlek verander en die trane het geloop. Uiteindelik het die skooltannie my ouma by die huis gebel. Sy het belowe dat ek my nie verder moet bekommer nie, sy sal sorg.
Ek wonder hoekom ek vanoggend aan hierdie storie dink. Dalk omdat dit een van die dae weer my verjaarsdag is, of dalk omdat die voëltjies my vroeër wakker maak en my herinner aan God se sorg. Ek onthou dat dit hierdie tyd al somer was in my kleintyd jare. Nie soos nou in die Boland waar lente beteken dat jy nog truie aantrek of met toe skoene loop nie! Ek dink ver paaie terug.
My ouma was destyds net ‘n telefoonoproep ver. Nadat ek haar stem gehoor het kon ek rustig verder speel. By die huis het ‘n rooi rokkie voor die kas se deur vir my gewag. Ouma het my ligblou rokkie met die hand gewas en opgehang. In die warm Noord-Kaap sonnetjie het dit vinnig droog geword. Voordat die partytjie nog kon begin of my ma by die huis opgedaag het, was ‘n skoon rokkie terug aan my lyfie en die trane vergete. Boonop was dit ons twee se geheim!
Die verjaarsdagkrisis het ‘n baken van onthou geword. Later was daar baie ander bakens. Ek besef opnuut dat dit juis die groeiproses is wat maak dat ons dinge onthou en ook ‘n verskil in ander se lewens kan maak. ‘n Jaar gelede het my oudste haar eie teleurstelling ervaar. Toe hulle die name lees, was haar naam nie daar nie. Sy moes saam met Jesus ‘n pad stap en kon met hoop aan die ander kant uitkom. Haar storie het deel van haar getuienis geword. Hierdie jaar het sy bo-op haar baken gestaan en kon sy ander troos wat dieselfde teleurstelling as sy moes ervaar.
Luister ek na die voëltjies en dink ek terug aan al my verjaarsdae, kan ek net ‘n paar goed onthou. Die blou rokkie is een van hulle al kan ek min van die eintlike partytjie onthou. Ek is dankbaar dat die God van my ouma ook my God geword het. Dat ek weet Hy ook vir my sorg net soos vir die lelies en die wilde voëls.
Minder as drie maande na my sesde verjaarsdag is my ouma dood aan leukemie. Ek wonder of ek toe reeds besef het hoe siek sy eintlik was. Dit maak my dankbaar vir hierdie onthou storie.
Matteus 6 bly ‘n baken van hoop vir ons wat so maklik oor alles bekommer: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie, julle hemelse Vader sorg vir hulle…..”
‘n Blou rokkie met wit knopies, ‘n ouma wat sorg, voëltjies wat sing en groen blare. Bakens van hoop. Die winter is verby. Die lente is hier….ons God is steeds in beheer.