Klippie of rimpels

Hy het ‘n prentjie van ‘n hoop klippies gestuur. Dit was mooi maar nie heeltemal wat ek ingedagte gehad het nie. Wat is die belangrikste tema wat ek wou wys, was die vraag: Die klippies of die rimpels? Dit was ‘n goeie vraag. Die klippies was nodig vir die rimpels…maar dit was die trefkrag van die rimpels wat verras het. Wie die klip gegooi het, was irrelevant, hoe groot of glad die klippie, ook nie van belang nie. Die rimpels het wyd gekring en plekke bereik wat die klipgooier nie eers kon sien nie. Daarom het ek die rimpels gekies vir die voorblad van my nuwe boek.

“Waar moet ons die pasga voorberei?”, wou die dissipels weet. “By so en so se huis”. “Die eienaar sal vir jul ‘n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is.” Ek kon nie help om te wonder wie die onbekende man was wat sy huis vir Jesus en sy dissipels beskikbaar gestel het nie. Nêrens word sy naam genoem nie. Tog was dit ‘n belangrike ete. Die Pasga was Jesus se laaste ete saam met sy dissipels.

Wanneer Samuel ‘n nuwe koning wil salf moet hy leer dat die Here anders as mense kyk. ‘n Jong skaapwagter word bo sy broers gekies. Teen die verwagting in.

Toe die tromspeler, Charlie Watts van die sanggroep ‘Rolling Stones’, onlangs op die ouderdom van 80 sterf, lees ek sy rolbeskrywing van homself raak.  “Mike (Jagger) het wel liedjies geskryf en gesing, maar ek het die mense laat dans!”

Almal kan nie sangers wees nie en baie wil nie skrywers word nie. Sommige speel dromme of kitare, ander vertel stories. ‘n Skaapwagter word koning want die Here sien ander dinge raak.

Wie se huis dit was, was irrelevant, tog was dit belangrik. Wie die skrywer is, maak minder saak, wel dat die boek geskryf en gelees word. Hoop ontstaan uit klein gedagtes. Soms ‘n glimlag of ‘n mooi woordjie. Dit vervang die vraag hoekom jy wil weggaan, na watter verskil wil jy daar gaan maak? Ons hoef nie soos ander te wees nie maar ons is bedoel om die lewe ‘n beter plek te maak. Om jou gawes te gebruik sodat ander kan dans al kan jy self dalk nie sing nie.

Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop. Ons hoop is in Christus….Mag die Here ons lei om die regte klippies op te tel en ons die krag gee om dit te gooi. Mag dit lei tot rimpels van hoop. Tot Sy eer….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories