Stilte

Ons het die kar gehoor, toe die slag en daarna die stilte.

Toe die man uiteindelik uit die wrak gehaal is het ek weer probeer slaap. Ligte het bly flikker terwyl hul gesukkel het om die kar weg te tou. Drie van die kinders het rustig bly slaap. Onbewus van die brandweer, die ambulans en die hartseer verhaal aan die ander kant van die draad.

Wie was die man? Sou hy dit oorleef? Ek het met ‘n skok besef dat ek so besig was om sy kop vas te hou dat ek nooit vir hom gebid het nie. Dit was my onrustige hond wat my oudste in die nag gaan wakker maak het. Ek onthou dat ek haar vlugtig in die deur sien staan het. Dan noem sy vir my dat sy die heeltyd vir die man in die kar gebid het. ‘n Las gly van my skouers af. Hoe wonderlik wanneer gelowiges intree vir mense wanneer ander nie kan nie.

Die volgende oggend is daar min spore oor van die nag se trauma. Die kinders sukkel om ons te glo. Al teken is ‘n boom wat seergekry het en paar stukkies glas. Hoe vinnig verander die lewe tog nie. Een oomblik jaag jy in ‘n kar net om die volgende oomblik tot stilstand te kom.

Ek dink aan die storie van die pastoor, John Harper wat soveel mense na Jesus gelei het voor en na die Titanic gesink het. Een van die getuienisse het van ‘n jong man gekom vir wie John twee keer kom vra het of hy vir Jesus ken. Die 2de keer het hy hom met sy laaste asem na Jesus gelei en self in die water verdwyn. Dit het ‘n blywende indruk op die jong man gemaak en sy lewe verander.

Vanoggend speel ‘n lied oor die radio…Halleluja, ons dien ‘n God van tweede kanse. Soms is daar engele in die vorm van mense en soms ‘n reddingsbaadjie op jou pad.

Die 10 meisies het geweet dat die bruidegom gaan kom. Tog het al 10 aan die slaap geraak. Uitgeput deur die lewe. Wanneer hy onverwags opdaag het die helfte genoeg olie in hul lampe gehad om gereed te wees. Die ander 5 nie… Ek kon nooit verstaan hoekom die meisies nie maar met die ander kon deel nie. Vandag begryp ek dat ons mekaar op die lewensreis moet help om ons lampies gereed te kry, maar dat daar ‘n dag gaan kom wanneer jy genoeg olie vir jou eie lampie moet hê.

Met die 9/11 herdenking word ons herinner aan duisende mense wat hul dag op die gewone manier begin het. Vir ons is dit ‘n wekroep dat elke dag ‘n geskenk is en dalk reeds jou 2de kans.

Ek bid vandag vir die onbekende man. In die stilte van die nag is ook ons wakker gemaak….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories