What a wonderful world
Die twee seuntjies vang my oog. Elkeen stoot ‘n karretjie. Die een is gemaak van ‘n vrugtesapboks en die wiele lyk soos proppe. Die ander karretjie is twee melkhouers binne-in ‘n roomysbak. Dit lyk soos ‘n skoolprojek van herwinbare produkte, maar hierdie wiele moet regtig draai. Dis karre wat kan ry. Die speelgrond is die voetpaadjie langs die besige hoofpad. Hulle lag en lyk gelukkig met wat hul het.
Oppad werk toe die oggend, speel die lied van Louis Armstrong, ‘What a wonderful world’ , en ek kan nie help om saam te sing nie. Die tweede vers tref my veral, dalk omdat ek so lief is vir wolke: “I see skies of blue and clouds of white. The bright blessed day, the dark sacred night. And I think to myself, what a wonderful world…”
Dis interessant dat die lied jare gelede geskryf is na politieke onrus in Amerika , miskien om almal te herinner aan die skoonheid van die skepping, dat ons die lewe moet vier en dat tyd vir niemand wag nie.
Dis egter by die kinders waar my gedagtes vashaak. Nadat Jesus met die donkie in Jerusalem inry maak hy mense gesond terwyl die kinders hom aanhou prys. Dis juis húlle wat die Skrifgeleerdes die meeste ontstel. Jesus herinner almal dat dit juis kinders en suigelinge is wat Sy lof sal besing.
Ek gaan soek die woorde in Psalm 8: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teestanders, die vyande en wraakgieriges tot swye gebring.”
Ons kan so vasgevang word in ons eie wêreld van kommer en probleme dat ons die wonder vir ons kinders weerhou. Kinders het baie minder nodig as wat ons dink maar ons het kinders nodiger as ooit.
Dis jammer as covid ons uit ons kerke hou maar niks keer ons om lofprysing in ons huise te bring nie. Om in die veld te gaan stap kos niks, om in die aand na die sterre te kyk en die maan se pad te volg kan ons herinner aan God se grootheid.
Mag ons ons kinders weer leer van Jesus sodat ons kinders die wêreld kan stil maak wanneer hul Sy grootheid ontdek en Sy lof besing.
‘n Karretjie van herwinbare produkte. Blou lug en wit wolke. Wat is die mens dat U aan hom dink? Dankie vir ‘n wonderlike wêreld wat U aan ons gegee het. Dankie vir kinders wat ons leer om anders na die lewe te kyk.