Om te glo

Ek het soos Petrus gevoel. Die een oomblik kon ek op die water loop. Vreesloos. Die volgende oomblik is dit al die koerantopskrifte, nuusgebeure en gesprekke met my buurman by die kamp wat my laat twyfel. Die wind en golwe van die lewe. Stormagtig. Skielik was ek ook bang. Ek kon voel hoe ek begin sink.

Terwyl ek in my stiltetyd verder deur Matteus reis, is dit by die geloofstories waar ek stop. In Nasaret, Jesus se tuisdorp, kon hy amper geen wonderwerke doen nie, omdat hulle nie geglo het nie. In Gennesaret, ‘n entjie daarvandaan, hoef mense net aan Sy klere te raak om gesond te word, omdat hulle glo. In dieselfde hoofstuk kry Jesus die mense jammer en gebruik die paar vissies en broodjies om vir meer as vierduisend mense kos te gee. Hoe ironies wanneer die Fariseërs net daarna by Jesus ‘n wonder uit die hemel soek. Ek wonder waar hulle was toe Hy al die mense kos gegee het. Waarskynlik nie op die heuwel by Sy voete nie.

Wanneer my ma onverwags in die hospitaal beland en opnuut ‘n kans op lewe kry, besef ek iets van die Here se hand. Die besoek, op die regte tyd, en ‘n dokter wat onrustig voel. Sy kry ‘n tweede kans en ons ‘n wekroep op die veranderlikheid van die lewe.

Ons soek wonders van God uit die hemel terwyl ons al die wonders langs ons mis. Ek lees verder dat dit jammer sou wees as jy die wêreld sou wen, maar God in die proses verloor. Ek dink aan Europa met sy idilliese kanale, mere en geskiedkundige katedrale en geboue, plekke waarna my hart soms hunker, maar hoe min mense daar nog die Here ken. Dit plaas dinge in ‘n ander perspektief vir my. Daar is groter gevare as misdaad. Dis waarteen ons moet waak: Om God uit die oog te verloor, maak nie saak waar ons bly nie.

Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop. Geloof is ook om vas te hou aan Jesus al verstaan ons nie alles nie. Dit het oomblikke waar jy op die water kan loop maar soms ook oomblikke waar jy in jou twyfel Sy hand moet gryp.

Ek kies vandag om naby U te bly. Al my kommer en twyfel vir U te gee. Vergewe my ongeloof wanneer wind en weer groter voel as U. Dankie vir die wonder van lewe. Vir blou lug en sonskyn. Lei my op díe pad waar ek U nooit uit die oog sal verloor nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories