Gee die regte hond kos

Watter hond gaan wen, wou hul weet. Die eienaar het geglimlag: “Die een wat die meeste kos kry…”

In die week onthou ek hierdie storie. Dis wanneer ek moet kies wat ek my kop die meeste voer. Ek kan al die slegte stories lees en hooploos raak of ek kan die goeie stories soek en hoop skep. Ek het ‘n keuse.

Dis ook dominee Deon se vertrekpunt aan die begin van die week. Hy haal ‘n koerantopskrif aan: “Dis net die begin…”, en die vraag is of ons aan die begin van die einde is, of is dit dalk die begin van iets nuuts?

Op ‘n Suid-Afrika webtuiste sien ek die mooiste advertensie van die skoonheid van ons land en mense wat hande vat. Dis pragtig. Tog is ek verstom deur al die negatiewe kommentaar. Op ‘n manier wonder ek of dit soveel anders is as mense wat geboue afbreek. Woorde en kommentaar breek ook af. Dalk rig dit op die lange duur selfs meer skade aan en moet ons dalk minder vingers wys na die “looters” en eers na onsself wys. Hoe maklik is dit tog nie om ‘n skerp woordjie te skryf nie. Dis amper soos om ‘n vuurhoutjie aan te steek. Eintlik is dit erger. ‘n Gebou kan jy weer oprig maar slegte woorde vernietig hoop, steel geloof en vergroot die gapings tussen mense.

Wanneer ek onbepland in die woud gaan hardloop word ek verras deur al die stroompies water wat vloei. Kort-kort is dit moeilik om droogvoets deur te gaan. Iemand was egter so gaaf om leertjies oor die stroompies te pak. ‘n Onbekende weldoener. Hoe wonderlik sou dit wees as ons eerder bruggies wou bou sonder om alles af te wil breek.

In die week komplimenteer ek ‘n pakker omdat sy al my inkopies so netjies probeer inpas. Sy glimlag skielik en antwoord dat sy haar bes doen. ‘n Klein woordjie maak iemand se dag.

Watter hond gaan wen? Die een wat kos kry. Jesus se voedsel was om God se wil te doen. Goeie kos is te kry in Sy Woord, in goeie boeke en in stories van hoop. Dit help my om met ‘n ander bril na die lewe te kyk en anders op te tree. Ek koester vriende wat met hoop lewe en bevriend mense op sosiale media wat die mooi kan raak sien, ander inspireer en leertjies oor strome wil bou. Ek bid vir ons leiers en vir mense wat opstaan vir wat reg is.

Elke dag kry ons ‘n nuwe geleentheid om met dankbaarheid op te staan. Waarmee ons ons vol maak bepaal ons uitkyk op die lewe en of ons ‘n verskil kan maak waar ons beweeg. Sy genade is nuut elke oggend en Sy beloftes staan vas.

Ek kies om in Hom te bly glo.

“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor…” Matteus 12:34

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories