Onluste – ‘n gedig
Daar is onluste in my land.
My hart is seer,
Ek voel beangs
Ag Here, sien tog raak.
Mense plunder
Hul vat en gryp net wat hul wil
Dan brand hul alles af.
Dis nag, Here, pikswart nag.
Die regering probeer
Weermag en polisie kom,
Die chaos hou nie op.
Ons is bang Here, dit lyk of niemand dit kan stop.
Paaie word versper
Hospitale kry swaar
Bring die suurstof, asseblief maak gou.
Mense is angstig, Here, almal voel benoud.
In my binnekamer word ek stil.
Ek blaai deur Psalms
En soek woorde om te beskryf
Wat ek voel en waar om U te vind.
Dawid skryf van skelms
Van onrus in sy land.
Het ek ooit gedink
Dat ook ek Psalms sou wou skryf?
Hy stort sy hart uit keer op keer
Hy besing U grootheid elke keer.
Ek weet dat ons moet bid,
Laat U naam geheilig word laat U koninkryk tog kom
My woorde is stil.
Minder praat en minder dink.
Ek vou my hande saam,
U sien alles om my raak.
U is God, U is my Heer
U troos, U tel weer op.
Deur die puin, tussen dit wat was
Stap U saam, neem U ons las.
Die son kom op,dit raak weer lig.
Voeltjies begin versigting sing,
Ek lig my kop 'n bietjie op
Daar is steeds hoop,U leef, vir nou is dit genoeg.