Kouse sonder gate
“Tannie, dis asof Jesus tannie gestuur het, want my skoene het vandag oppad skool toe gebreek.” By ‘n ander skool begin sy die dogtertjie se skoentjies uittrek. Tot haar verbasing het sy drie pare kouse oormekaar aan, almal vol gate. Sy glimlag verleë: “Gelukkig tannie sit al die kouse se gate op verskillende plekke!”
Te midde van ‘n covid epidemie, argumente oor vaksiene en opstande oor dienslewerings en hofbeslissings, is daar ‘n skoene projek. Een van baie ander projekte wat nie noodwendig die nuus haal nie. Ek sien ‘n stukkie Psalm 37 daarin: “Moet jou nie ontstel oor skelms….vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.”
Waarmee is ons besig Here? Saai ons gif met ons woorde of gee ons liewers skoene? Maak ons ons moeg met die wêreld se dinge of kyk ons waar U werk?
Ek skrik as ek in Matteus 7 lees dat nie elkeen wat vir my sê: “Here, Here”, in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie…maar net hy wat die wil doen van my Vader…. “Het ons dan nie in U naam gepreek, duiwels uitgedryf en deur U naam baie wonders gedoen nie?” Dan die hartseer antwoord. “Ek het jul nooit geken nie.”
Woon en werk rustig voort is ‘n opdrag om fokus te behou. Jou oog op die bal. Juis in tye soos hierdie. Jou sorge aan die Here te gee, en nie toe te laat dat die wêreld jou aftrek nie.
Geseend is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, geseend is die sagmoediges, dié wat honger en dors na wat reg is, dié wat barmhartig is. Geseend is die vredemakers.
Dit was vir die seuntjie maklik om Jesus in die skoentjies te sien. Nuwe sokkies het ‘n dogtertjie se ogies laat blink. Dis mooi stories wat die hart warm laat klop. Ware stories van mense wat bereid is om Jesus se hande en voete te word. Wat kies om ligdaers te wees.
Journey of Hope//Youth4Life//Samaritan’s feet South Africa
Waar daar liefde is en deernis, daar is die Heer….
Kouse en skoene. Eintlik so eenvoudig.