Nightbirde

“Jy kan nie wag totdat die lewe nie meer moeilik is, voor jy besluit om gelukkig te wees nie.”- Dis die woorde van Jane Marczweski op America’ Got Talent nadat sy haar liedjie….Its Ok, op die groot verhoog sing.

Haar oë straal ‘n vreedsame krag uit…te midde van haar kort hare en skraal lyfie. Sy noem terloops dat sy kanker het. Later verduidelik sy dat sy ‘n paar aande van voëls gedroom het wat in die nag sing. Dit het haar laat glo dat ook sy in haar “nag-tydperk” ‘n lied het om te sing. Daarom die naam Nightbirde. Sy raak nie net die harte van die beoordelaars nie maar ook van almal wat haar storie hoor. Sy inspireer met haar wese sonder dat sy hardop hoef te getuig. Wanneer ‘n mens dieper delf sien jy hoe sy stoei met die Here maar steeds aan Hom vashou. Dis “ok” om nie altyd “ok” te wees nie….

Ek wonder lank oor haar. Wat dit is waarmee ons identifiseer? Dalk in die struggles van die lewe en almal se soeke na geluk? Dalk maak sy ons skaam omdat haar lewe aan ‘n draadjie hang en sy nogtans kan glimlag. Miskien is dit net goed om te hoor dat alles nie altyd ok hoef te wees nie, dat ons ook nie alles hoef te verstaan nie.

Geluk….iets waarna almal soek…soms daar ver. Soos die skoenlapper wat jou keer op keer ontwyk terwyl jy angstig agter hom aanhardloop. Dis wanneer jy stop en beleef dat hy uiteindelik, onverwags, self op jou hand kom sit.

Wat maak jou gelukkig…..of dalk is die vraag wat sal jou gelukkig maak? Die probleem is dat die soeke na geluk dikwels net kortstondig bevredig word en dan is ons weer op soek na iets beters. Mense stel teleur en jy ontdek dat die gras ook nie so groen is aan die ander kant van die draad nie.

Dis dan wanneer ‘n mens moet kies. Wanneer die lewe se grafiek in die verkeerde rigting loop kan jy of by die nulpunt bly of ‘n besluit neem om anders na die lewe te kyk. Wanneer jy besef dat mense jou gelukkig kán maak maar dat jou geluk nie van mense moet afhang nie, neem jy ‘n stap in die regte rigting. Om die klein dingetjies raak te sien en te waardeer maak jou dankbaar en ‘n dankbare hart help jou gedagtes om op die mooi dinge te begin fokus.

As kind het ek graag Sound of Music gekyk. Dalk was dit Maria se uitkyk op die lewe en haar vermoë om die te mooi te soek, wat my die fliek keer op keer laat kyk het.

“Raindrops on roses and whiskers on kittens. Bright copper kettles and warm woolen mittens. Brown paper packages tied up with strings …These are a few of my favourite things. When the dog bites, when the bee stings when I’m feeding sad, I simply remember my favourite things and then I don’t feel so bad…. ” Dalk sou ek vandag die woorde kon vervang met reëndruppels op blare, pienk sagte wolke in die lug, herfsblare en sonneblomme, branders en berge…dinge wat my hart laat glimlag.

Vandag sing ek egter saam met Dawid in Psalm 16: “U is my lewe, U sorg vir my….selfs in die nag bly ek bewus van wat U my leer..U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap.”

Geseend is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Ons begin en ons einde.

Nightbirde het besef haar uurglas loop uit. Sy het haar hart voor die Here uitgestort en ‘n keuse gemaak:

“You can’t wait until life isn’t hard anymore before you decide to be happy.”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories