Statistiek

So word ek ook deel van die statistiek. Nie my keuse nie. Amper spyt ek het die toets gedoen al weet ek, ek moes. Gehoop dis maar soos altyd se bronchitis. Die week se planne word gekanseleer. Alles verander as jy die boodskap kry…

Ek drink my warm kookwater en eet my appel. Hou my mond en bly op my plek. Bid saggies dat my bors nie erger sal word nie. Ek dink aan my niggie wie se hoofpyn toe al die tyd ‘n groeisel was. Een dag se diagnose plaas jou lewe in ‘n ander rigting. Soms net tydelik, ‘n knikkie in die pad, vir ander meer ‘n opdraende pad.

Die woorde van Psalm 103 spreek my aan. Dalk was daar ‘n rede hoekom ek dit vanoggend moes kry. Onwetend dat die keel seer toe meer as ‘n verkoue was: “Ek wil die Here loof met alles wat in my is, wil ek Sy heilige naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van Sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat my sonde vergeef, wat al my siektes genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk…”

‘n Ou lied se woorde steek in my kop vas….dit is my roemtaal, dit is my lied….lof wat ek Jesus ewig sal bied. Ek vul my kop met goeie dinge, ek hardloop na die kruis en klim op die arend se rug. Hy bring ons tot stilstand maar Hy los ons nie. Hy laat my rus in groen weiwelde, Hy bring my by waters waar daar vrede is!

Die lewe se kronkels en draaie kan ons nie skei van God se liefde nie. In Hom is ons hoop. Stort julle hart voor My uit…My las is sag en My juk is lig. Hoe wonderlik as Sy woorde spontaan van my lippe afrol. For good times and bad times…

Dink ek aan my kinders en wat ek hulle nog alles wil leer, stem ek saam met die woorde in Karen Zoid se bekende lied, As musiek begin speel: “Jy gaan eendag moet veg met als wat jy het. Soms gaan jy voel: Wat is die doel? …Ek wil hê jy moet saamsing as musiek begin speel en dans in die somer se reën, en soek vir die reënboog my skat…en as jy voel die lewe is net een groot gesuffer….reik jou hande uit en help ‘n ander met minder as jy…”

Dalk weer die pinkster boodskap, leef in the moment, gee om vir ander, maak moeite met jou Skepper. Hou jou hand in Syne…Maak jou vol met goeie dinge. Dis wat ek jou wil leer, my kind…

Om deel van die statistiek te word is nie lekker nie, tog is dit soms onvermydelik. Gelukkig vir verse van gister wat ons laat dans, selfs as dit reën. Uitreik na ander maak die lewe sagter…..

Die aandete was ‘n geskenk uit liefde. Whispers vir poeding op ‘n Woensdagaand! Vir ons het die hobbel in die pad ook ‘n soet smakie gekry.

.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories