Kontras van die lewe
In ‘n bestek van ‘n uur verwys ek ‘n pasient met borskaspyn, doen ‘n sonar vir iemand met ‘n onwelkome swangerskap en neem die oproep van ‘n pasient in trane, besig met haar vyfde miskraam. Die lief en leed van die lewe, alles onder een dak.
Later lees ek die email van iemand wat kla dat mense nie weet watter moeilike tyd sy deurmaak nie. Dit regverdig nie haar misbruik van pille nie maar som tog iets op van ons daaglikse bestaan. Ons weet so min van mekaar….
Wanneer ek die sekuriteitswag by die deur groet en vra hoe dit gaan, verhelder sy gesig net met ‘n blote vraag. Wanneer Jesus vir sy dissipels bid in Johannes 17 is sy versoek nie om ons uit die wêreld weg te vat nie maar om ons van die bose te bewaar. Tussen al die lief en leed is dit nodig dat ons geanker bly en aanhou vrugte dra.
Na die dood van ‘n dinamiese man stroom die huldeblyke in. Van studente, vriende en medekollegas. Tog is die grootste getuigskrif op sy begrafnis die van die boemelaar wat elke Saterdag by hom ‘n beker tee gekry het en in trane na sy dood uitroep: hy was my vriend! Vir hom het dit lankal nie meer oor die beker tee gegaan nie maar die geselsskap en stukkie menswaardigheid wat hy ontvang het.
Tussen al ons gejaag en probleme is tyd vir mekaar, respek en begrip, dikwels dit wat mense die meeste nodig het. Ons raak self moeg en wonder hoe ons dit moet doen. Ek kry my antwoord by die gedeelte oor die wingerdstok: “Bly in My, soos ek in julle. Dan sal julle vrug kan dra. Sonder My kan julle niks doen.” Bly in Hom…
Ons leef in ‘n vreemde onvoorspelbare wêreld. Mense kry seer en mense kry swaar. Hemelvaartsdag herinner my aan Jesus se woorde dat Hy by ons is….altyd. Die mooi wolke in die lug bring ‘n sagtheid aan die lewe…’n kontras van dit wat rondom ons gebeur. “Die vrede wat Ek vir julle gee is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moenie ontsteld wees nie en julle moenie bang wees nie….” Johannes 14:27
Tussen die borskaspyn, miskraam en onbeplande swangerskap, die kanker wat terug is en die kind wat sukkel, tussen covid, vaksiene en maskers….alles wat ons nie verstaan nie en waarvan ons soms so min van weet…beloof Hy Sy vrede…. vrede wat alle verstand te bowe gaan.