Wees die lig
Hy was nie baie bekend nie. Beskryf homself as ‘n sluiper, dromer en ‘n rebel op skool. Goed in atletiek maar te lui om te gaan oefen. Deur geskraap en met genade vrystelling gekry. Sy naam lui ‘n klokkie en ek gaan soek hom in my matriek jaarboek. Ek onthou hom van die koffiekroeg in graad 11. Nou is hy ‘n bebaarde man, skrywer en prediker. Vreemd om te dink ons is ewe oud.
Sy storie is ‘n inspirasie, nie net vir wie hy geword het nie maar ook vir hulle wat tans op skool is. Wat spook en spartel vir hul plekkie in die son. Hy het iemand geword wat sy passies kon uitleef en sy roeping vind. Wat ook by die prysuitdeling beland…al is dit as spreker 20 jaar later. Vir sommige kom dit later as vir ander, die kuns is om aan te hou soek, te droom en te bly glo. God toe te laat om jou lewe te stuur…
Die pinksterreeks hierdie jaar laat my regop sit. Ons word gekonfronteer met Jesus se idee van kerk-wees, soms ver verwyderd van ons realiteit. In Jaco se eie boek, “Leef Lig” vra hy vooraf die vraag of jy regtig nog ‘n boek nodig het? Hoeveel preke wil ons luister voor ons nader kom aan Jesus se hart: Liefde in aksie….
Ons word meegevoer deur stories van afvlerk voëltjies wat Jesus leer ken deur aanvaarding, lank voor hul bereid is om na preke te luister. Die stories in die Bybel lees soms soveel makliker as die stories rondom ons. Tollenaars, prostitute, arm weduwee….dan die slegte Fariseërs wat niks verstaan nie. Die spieël laat my skrik as ek besef hoe maklik ek ook maar aan die verkeerde kant bly staan.
Pinkster roep ons op om uit ons gemaksone te kom, om minder te kla en meer te doen. Om stil te word by Jesus….nie net om ons harte te deel nie, maar om Sy hart te hoor. Dalk laat dit ons met ander oë na ons eie land kyk. ‘n Land met soveel geleenthede….waar geloof en hoop maar veral die liefde nog nooit só nodig was nie. Waar gebede nie bloot net gebede mag bly nie.
Vandag is Jaco Strydom bekend. Steeds ‘n dromer, bietjie van ‘n rebel maar verseker nie meer ‘n sluiper nie. Hy leef wat hy glo en hy wys ons in die rigting van Jesus.
Mattheus, Markus, Lukas, Johannes… dalk die plek om self weer te begin lees. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God….In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Die Lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Johannes 1
Mag Hy ons lei om ‘n verskil te maak waar ons beweeg. Om opnuut ons passies te ontdek en ons roeping te vind. Mag ons soos die Samaritane in Johannes 4 uiteindelik ook bely dat ons nie meer glo op grond van wat Jaco ons geleer het nie, maar omdat ons self na Hom geluister het en weet dat Hy waarlik die verlosser van die wêreld is….