Skoene op ‘n teerpad
Die verkeer het stadig gevloei. Verkeersbeamptes het ons om die toneel gelei. Twee skoene het op die teerpad gelê, ‘n entjie van mekaar af….Opvallend vreemd. Teen die muur het ek die hopie gesien, onder ‘n kombers. Hartseer. Ontstellend.
Ons het pas uit covid isolasie gekom en was dankbaar dat ons kon asemhaal en uit die huis kon kom. Die skoene het my herinner hoe gou die lewe kan verander. In ‘n oogwink. ‘n Gewone Saterdag vir een persoon het tragies vir ‘n ander geëindig….dalk ‘n pappa, iemand se geliefde. Een keer te veel oor die besige snelweg probeer hardloop.
Die afgelope week het ek baie oor ons doel op aarde gedink….hoekom ons hier is, hoekom ons werk, waarnatoe ons kinders oppad is, hoe om hul groot te maak, hoe om jou doel te bereik, balans te skep….Covid gee tyd om te dink.
Niemand wil net skoene op ‘n snelweg raak nie, tog raak so baie mense so deur die lewe meegesleur dat hul later maar net loop, sonder om êrens ‘n impak te maak.
Ons leef nie net vir onsself nie, ons is ook nie bedoel om net te oorleef nie. Ons is bedoel om bome van redding te wees. Om ‘n verskil te maak waar ons beweeg, blywende saadjies van hoop te saai. Nie omdat ons dit alles noodwendig self het nie, maar omdat dit God is wat ons lampe helder laat skyn, lig gee wanneer dit donker is rondom ons …ook hier waar ons bly.
Wanneer ek op die eerste dag weer werk toe ry na my siekte kry ek myself jammer…ek voel nog nie 100% nie en verwens my dat ek nie langer afgevat het nie. By die werk begin ek bewerig. Tog gebeur ‘n vreemde ding, hoe meer ek na ander luister, hoe meer vergeet ek my eie swakheid. Ek ervaar hoe my liggaam moeg voel aan die einde van die dag, maar my siel sterker. Die bevestig aan my hoe nodig ons mekaar het. Wanneer ek jou help, help ek eintlik myself. Saam kry ons dit reg om op te staan.
Wanneer die Gees oor ons kom het ons ‘n blye boodskap om te bring, kan ons mekaar bemoedig en opbeur. Jesaja se opdrag in hoofstuk 61.
Ons leer ons kinders om nie oor ‘n besige pad te hardloop nie. Om nie roekeloos te leef nie. Ons moedig hulle aan om te oefen en hard te werk. Waarvoor? Dalk moet die fokus minder wees om die hoogste sport te bereik en meer hoe om te wees wat God bedoel het ons moet wees…Dalk haal dit juis die druk af op ons en ons kinders om te presteer wanneer ons werk vir ‘n ander rede. Keer dit dat ook hulle later net meegesleur word deur die lewe.
Spore sonder rede raak doellose spore…. amper so hartseer soos roekelose spore. Dit veroorsaak dalk geen verkeersophoping nie, maar het ook geen impak…
Skoene op ‘n teerpad. Hy was meer as dit. Ons is ook meer as dit.
Bedoel om ‘n verskil te maak.