Geheime agent

Sy was die enigste Christen in haar kantoor. Dit was nie altyd maklik nie. Toe sy ‘n geleentheid kry om na ‘n ander firma te skuif het sy dit opgewonde met haar pastoor gedeel. Hy was bly vir haar, maar sy woorde het haar in haar spore gestuit: “Jy is dalk die enigste Christen wat hul ooit ontmoet…”

Toe die CEO van ‘n suksesvolle firma onverwags skuldig bevind word aan ‘n tegniese punt, word hy vir 6 maande tronk toe gestuur. Terwyl hy met die trappies afloop na die Londense gevangenis worstel hy met die vraag watter identiteit hy gaan aanneem. Díe van ‘n slagoffer of van iemand wat ‘n geleentheid kry om ‘n verskil te kan maak? Kon hy leef wat hy nog altyd geglo het? Hy besluit in daardie oomblik dat hy homself gaan beskou as ‘n “geheime agent”. Die reis was nie maklik nie. Gedurende sy vonnis skryf hy briewe van trane en twyfel maar ook van groei en deurbrake. Hy help sy mede-gevangenis met die gedagte dat vryheid ‘n keuse is. Mense kan jou bewegings beperk maar nie jou denke nie. Net so is dit nie jou omgewing wat jou moet definieer nie maar jý die omgewing.

Ons is geneig om ons omgewing die skuld te gee vir ons onvermoë. Wat as ons anders begin kyk? Soms wonder ek of ek ‘n Christen sou wou wees as ek nie een was nie. Sou daar geheime agente rondom my gewees het om my anders te laat kyk? Ek lees in Efesiers 4: 1 dat ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees met die roeping wat ons van God ontvang het: Beskeie, vriendelik, geduldig. Verdra mekaar in liefde…

Wanneer ‘n sendeling jare gelede op ‘n eiland beland word hy toegelaat om daar te bly, maar verbied om enigsins die evangelie met hul te deel. ‘n Paar jaar na sy dood bereik nog ‘n groepie sendelinge die eiland. Die mense ontvang hul vriendelik en luister aandagtig. Tot die besoekers se verbasing vertel die eilandbewoners opgewonde dat hulle hierdie Jesus ken. Dit moes die man gewees het wat op hulle eiland gebly het!

Maak die beste gebruik van elke geleentheid….met lewenswandel en soms met woorde. Ons opdrag. Wie weet, dalk is jy die enigste Christen wat iemand ooit ontmoet.

Wys ons na die sterre of sien ons ook net die modder raak? Elke dag maak ons ‘n keuse. Mense is moeg vir preke maar almal kan doen met ‘n stukkie omgee. Sendelinge sonder woorde. Soms hoef ons net te wees…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories