Om te vertrou
“When You don’t move the mountains I’m needing You to move. When You don’t part the waters I wish I could walk through. When You don’t give the answers as I cry out to you. I will trust in you.”
Dis die woorde wat in die nag met my kom praat terwyl ek met die Here stoei. Woorde van ‘n lied wat ook my tiener se anker was toe dinge nie uitwerk soos sy gehoop het nie. Dis kosbaar as jy by jou tiener kan leer…Ek dink aan ‘n vriendin se swaer wat in ICU opgeëindig het na ‘n onverwagse beroerte. Hulle bid, pleit en glo, maar dinge werk nie uit nie. Dan die moeilikste woorde…..om op U te vertrou.
Ek onthou hoe my skoonpa keer op keer slegte nuus moes kry. Nog ‘n klier kwaadaardig. Tog was Psalm 112 sy anker…”Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.” Soms so moeilik.
In die Finesse tydskrif lees ek verskeie stories van hoop. Ware lewensverhale en getuienisse. Die ironie is dat elke storie gebore is uit swaarkry. Dikwels uit dinge wat steeds nie sin maak nie.
Wanneer ons in die vakansie bevoorreg is om in ‘n huisie te bly wat op die see uitkyk, word ons betower deur die breek van die branders wat in die stil nagte stormagtig raas. Dan hoor ek Sy stem: “Wees stil en weet, Ek is die Heer. Ek spreek en wind en golwe bedaar.” My oog vang die rotse wat onbeweeglik bly staan te midde van die golwe wat keer op keer op hulle breek. Dit tref my en laat my opnuut iets begryp van Dawid wat die Here as sy rots beskryf het.
“Net by God vind ek rus want op Hom vertrou ek. Hy is my rots, my sterkte. God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom. Stort julle hart voor Hom uit.” Psalm 62
Ek laat sak my kop in ‘n stil gebed. Ons kan nie altyd wegvlug van die storms van die lewe nie maar ons kan kies om aan die rots vas te hou.
Die berge en die see raak klein in Sy teenwoordigheid….
“Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy omstuimigheid….Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige is by ons….” Psalm 46
“When You don’t move the mountains I’m needing You to move. When You don’t part the waters I wish I could walk through. When You don’t give the answers as I cry out to you. I will trust in you…..”