Wie is jy by die kruis?
Hulle het sy klere verdeel deur te loot….onder by die voet van die kruis.
Die volk het daar gestaan en kyk. Raadslede het Hom uitgelag. Die soldate het Hom bespot. Dis misdadiger het Hom gelaster. Mense het saam gedrom om na die skouspel te kyk. Sy vriende het op ‘n afstand bly staan, verslae.
Te midde van alles is dit die ander misdadiger, die een van wie jy dit die minste sou verwag, wat die meeste begryp: ” Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.”
Die verhaal soos opgeteken in Lukas, laat my vir ‘n oomblik wonder waar ek staan? Op ‘n afstand of naby aan die kruis?
Verlede jaar was ons diep in grendeltyd. Ek onthou die stilte goed. Ons moes paasfees stil in ons huis vier. Hierdie jaar bekruip paasfees ons onverwags. Die tempo het versnel en die lewe is skielik weer ‘n dolle gejaag.
Ons stop vir ‘n oomblik om te onthou….As jy gelukkig is gaan jy dalk kerk toe. Is jy ‘n kerkleier of in die orkes. Dalk bly ons deel van die skare wat kyk en aangaan met ons lewe. Miskien is ons selfs besig om te loot…dalk nie vir Jesus se klere nie maar vir beter geleenthede, vir geluk en dinge wat ons graag wil hê.
Die ironie is dat die afstand aan die kruis nie bepaal hoe ver of naby jy aan Jesus kom nie. Ons kan reg onder Sy voete sit sonder dat ons deel raak van Sy koninkryk.
Vandag wil ek stil word. Sommer net met Jesus praat. Al die ander dinge by Sy voete los.
Dink ook aan my Here….. soms is dit al wat ons moet vra.