Wat is jou naam?

“Ek is bekommerd oor jou.”

Die sterk vrou het aan die oorkant gesit. Skielik het die trane geloop. Sy het net so verbaas gelyk. “Niemand het nog ooit gesê dat hul bekommerd is oor my nie.”

Die nuwe Engelse juffrou was oulik….maar dit het die klas gepla dat sy na 2 weke nog nie hul name gevra het nie.

Tydens die netbalproewe is die kinders op die baan gesit en afgehaal. Sommige het langs die kant bly staan. Toe ek haar later kom haal het haar skouertjies gehang. “Hulle het nie my naam gevra nie.”

Die afgelope tyd het ek meer as ooit beleef hoe nodig dit is dat ons mekaar moet raaksien. Regtig raaksien. Om ‘n naam te vra, om te wys dat jy omgee, ‘n kompliment, ‘n goeie woord. Om die nuwe kind in jou kring welkom te laat voel.

“Die Gees van die Here my God het oor my gekom, die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om díe wat moedeloos is, op te beur…..” Jesaja 61:1.

Mense is eensaam, hulle kry swaar en baie raak tuis agter hul maskers. Kinders leer om virtuele speletjies te speel met ander kinders op ‘n afstand. Drukkies raak verbode en kontak al hoe minder.

Ek lees verder in Jesaja dat ons bome van redding moet wees. Dit inspireer my terwyl ek in ons dorp draf. Ek sien oral bome met groen blare wat uitstaan en skadu bied.

Ons kan opstaan omdat ons ‘n naam het….omdat God ons naam ken. “Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne!” “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer”. Dis met daardie wete dat ons ander se name kan vra, dat ons bome van Redding kan wees.

Ek het toe maar later by die netbal begin help met die baie kinders wat nog langs die baan bly staan het. Ek het elkeen se naam gevra…die skouers het gelig, die wange was weer rooi gespeel.

Twee weke later het my oudste genoem dat die Engelse juffrou uiteindelik hulle name gevra het…sy het tevrede geglimlag.

My enkel-ma pasiënt het haar masker weer opgesit toe sy uit die spreekkamer stap…tog was haar gemoed ‘n bietjie ligter. Dis ok om soms ‘n traan te stort en jou hart oop te maak, al is jy ‘n sterk besigheidsvrou.

Wees sag met mekaar. Sien mekaar raak. Streef daarna om Bome van redding te wees…

Vra sy naam en wys dat jy omgee. Soms is dit al wat nodig is…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories