Wat kan ons doen?
“Mamma, wat kan ons doen?” “Niks nie my kind…” en sonder om te dink roep ek terloops….”ons kan net bid!”
Die laaste sin bring my tot stilstand. Ons kan bid….en net daar, in die parkeerterrein maak ek, sy en haar boetie ‘n kringetjie en ons doen dit wat ons wel kan doen….ons bid.
Vreemd dat gebed soms beskou word as die laaste uitweg. Wanneer dinge amper hooploos voel….
In die geskiedenisboeke vind daar ook dikwels vreemde wendings plaas. Baie keer onverklaarbaar en miskien onwetend as gevolg van gebede agter die skerms. Hierdie gedagtes ontspring uit ‘n boek wat ek onlangs gelees het: The Maggie Bright, vernoem na ‘n klein kanaalboot wat saam met honderde ander klein bootjies ‘n groot rol gespeel het in die redding van duisende vasgekeerde soldate. Dis egter voor hierdie gebeure waar die koning van Engeland in ‘n ongewone stap ‘n dag van gebed aankondig.
Een van die karakters in die boek beskou hierdie gebedsdag as ‘n teken van desperaatheid met min hoop. Hy word reggehelp deur ‘n gelowige dame wat anders daarna kyk. Die koning gee daardeur erkenning aan God se almag en gebed hoef nie altyd gesien te word as “die laaste uitweg” nie.
In die boek se geval vind ‘n wonderwerk waarlik plaas. Duisende Britse soldate word in ‘n rekord tyd gered vanaf die Franse stad Dunkirk terug na Engeland. Op 2 Junie 1940 vind die laaste reddingspoging plaas. Net betyds voordat Hitler en sy manne die stad op 4 Junie finaal verwoes.
In die geskiedenisboeke word daar verskeie teorië genoem hoekom Hitler in daardie voorafgaande week so traag was met sy aanval. Dit het meegebring dat soveel meer soldate gered sou word. Merkwaardig, of dalk ook nie….Min maak melding van die dag van gebed.
Gebed maak die onmoontlike moontlik maar dit stel my ook in op God se hart. Dit help my om my probleme oor te gee en God daarmee te vertrou. Gebed gaan nie altyd oor die uitkoms nie maar plaas dinge in perspektief. Miskien raak dit soos Habakuk wat alles voor die Here uitpak en dan steeds kan uitroep: nogtans sal ek in die Here jubul!
Wanneer gebed ons laaste uitweg is raak ons desperaat oor die uitkoms, maar wanneer gebed deel van ons daaglikse reis is, raak gebed ons hawe waar ons veilig kan skuil. Spreuke 16 som dit so mooi op….Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer. (Die Boodskap vertaling)
Na ons kringetjie gebede is ek en my twee oudste kinders hospitaal toe. Die vrees was steeds daar maar ‘n ander kalmte het oorgeneem.
Vandag is dit amper 10 jaar later. My kinders luister verstom na die storie. Hoe ‘n 2-jarige van die klimraam af op haar kop geval het, nie vir pappa herken het nie en hulle ons nie in die hande kon kry nie. Hoe sy deurgejaag is na die hospitaal en ons angstig vir die breinskandering moes wag. Hoe familie en vriende ingestaan het om ons te help. Agter die skerms was daar ‘n mamma en ‘n boetie en sussie wat gebid het….Ek voel skaam dat hul nou eers daarvan hoor.
Soms vergeet ons al die wonderwerke. Dinge wat gebeur omdat ons bid. Die damme wat vol raak, besluite wat onwetend geneem word en kinders wat gesond raak. Soms is dit nodig om te stop en net ‘n keer terug te draai en dankie te sê.
Wat kan ons doen in tye soos hierdie? Ons kan bid. Altyd.