Ons troos in lewe en dood….
“Ek dink dis net ‘n bietjie sinus, mevrou.” Die droë hoesie het haar nie gepla nie. Twee dae later het sy maar gaan toets. Dit was positief. Die benoudheid het erger geword. Hospitaal toe. Drie weke later het my ma blomme vir die begrafnis gekoop. Wie sou dit kon dink? Sy was maar net 48 jaar oud.
Ek lees onlangs ‘n artkel met die opskrif: “Hoe bid ek tydens covid?” Eintlik kon die artikel maar gevra het: hoe bid ek as my geliefde kanker het, my kind swaar kry, iemand baie siek is?Waarvoor vra ek en wat as dit nie gebeur soos ek dit wou nie?
Baie mense leef in vrees. Die onvoorspelbaarheid van die lewe maak ons bang. Wat as ek of my geliefdes die volgende slagoffer is? Ek lees van die dokter wat binne 5 dae dood is. Hy was ook maar net 49 jaar oud.
Wanneer Jak de Priester ‘n vriendin bemoedig met ‘n lied tref sy boodskap my. Niemand van ons gaan oor ‘n 100 jaar nog hier wees nie. As jy lief het en lief gehê is in hierdie lewe het jy dit bereik wat eintlik saak maak. Dan hoef ons nooit in vrees te lewe nie. ‘n Ander uitkyk op ons tyd op aarde.
Romeine 8 bring groter perspektief. ” Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” Paulus antwoord met ‘n vaste wete: “In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet….Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of magte of kragte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie…die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Uiteindelik het ons almal net ‘n ” vandag”. Niemand weet hoe môre of die toekoms gaan lyk nie. Daarom dat ons in Efesiërs aangemoedig word om die beste gebruik te maak van elke geleentheid.
Liesbet het nie verwag dat haar lewe so gou tot ‘n einde sou kom nie maar haar twee seuns stap in diep spore agter haar aan. Gewortel in haar liefde. Haar nalatenskap is groot.
In ons eie verliese word ons gestroop van alles wat sin maak en gekonfronteer met dit wat ons glo en hoop en nie altyd kan sien nie. “My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort…” Die lied tref jou eers wanneer jy self sukkel om getroos te raak. Dit word jou anker, jou hoop en ook jou opstaan.
Mag ons so leef dat ons eie geliefdes nooit daaroor hoef te twyfel nie. Nie eens die dood kan ons van Sy liefde skei nie. Mag ons soos Paulus getuig…as ons lewe, leef ons tot eer van die Here, en as ons sterwe, sterf ons tot eer van Hom.
Hoe bid ek tydens covid? Met geloof, sonder vrees en met ‘n vaste vertroue dat ons veilig is in Sy hand.