Klim saam in die Nuwejaarsboot
Die jaar wil begin met ‘n sug. ‘n Swaarmoedige sug en amper morbiede stilte. Hoe graag wou ons tog nie 2020 se probleme en uitdagings agterlaat en skoon begin nie. Ons drome weer op koers kry en net normaal voortgaan nie? In plaas van vuurwerke steek ons kerse op vir mense wat swaar kry of nie meer met ons is nie. Ons raak bewus van die voorreg van gesond wees en mense rondom jou…
Verlede jaar was Covid iets van ‘n ander land. Hierdie jaar is dit soos ‘n digte mis waarin ons steeds vasgevang is. Maskers en beperkings. Selfs die see verbode. Wanneer gaan dit eindig?
Hoe pak ek ‘n nuwe jaar aan wanneer die storms van siektes en onsekerhede steeds rondom ons woed? Mag ek nog droom of is ons net bedoel om te oorleef?
Ek lees in die week ‘n kosbare vers in Hebreers 13: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid…” Dit word my vertrekpunt van die nuwe jaar. ‘n Sekerheid te midde van al die ander onsekerhede.
Wanneer Jesus op die water na hulle loop, waag Petrus dit om uit die boot te klim maar begin sink wanneer vrees en onsekerheid hom oorweldig. Tog kry hy dit reg om in sy benoudheid na Jesus te roep en sy hand uit te steek. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader….” ‘n belofte uit Jakobus. Soms wankel ons geloof meer as ander kere. Jesus verwag nie dat ons elke dag op die water moet loop nie maar Hy nooi ons om saam met Hom uit te vaar en naby Hom te bly. Ons het nie ‘n keuse of ons in 2021 se waters wil vaar nie maar ons het ‘n keuse om saam met Jesus in die boot te klim.
En ons drome?
Iets van 2020 se onverwagte gebeure laat my dink aan Josef se verhaal. ‘n Jong seun met groot drome wie se lewe in ‘n oomblik se tyd verander. Die een oomblik nog die geliefde seun net om ‘n ruk later as slaaf verkoop te word. Ondenkbaar en onverstaanbaar. Ver verwyderd van alles wat bekend is. Sy drome aan’t skerwe. Ek kan my net indink hoe Josef moes voel: Verslae, bang, onseker. Eensaam, moedeloos en dalk selfs ‘n bietjie hooploos. Miskien hoe sommige van ons voel.
Min mense sou Josef se verhaal kon voorspel. Dat sy drome tog waar word op die mees onvoorspelbare wyse. Dat sy broers tog voor hom sou kom buig…Wat ons egter maklik mis is dat sý drome nie die belangrikste in die storie is nie, al word sy drome indirek daardeur waar …dis die uitlê van ander se drome wat die verskil maak tussen lewe en dood. God se groter prentjie.
Dit bring my by vandag. Januarie 2021 binne in Covid-19. Dalk die Egipte waar ons ook sit en waar ons drome ook nie sin maak nie. What day is it? It is today….Dalk die dag dat jy na die skinker of bakker se storie moet luister, onwetend dat jy daardeur ‘n verskil aan ander se lewens kan maak.
Ons klim nie net saam in die boot om van die storms weg te vlug nie maar ons klim saam met Jesus om ons daardeur te lei. Josef het nie sy rol in Egipte verstaan nie maar hy laat toe dat die Here hom gebruik. In plaas daarvan dat ons aanhou kla oor dinge of oor die regering is die vraag dalk eerder hoe Hy my in hierdie tye wil gebruik.
Januarie 2021. Ons kan sug en kla of ons kan inklim en begin roei. Jesus is reeds in die boot. Wat ‘n voorreg dat ons hier kan wees.
What day is it? It is today! My favourite day!….(Winnie the Pooh and Piglet quote )