Wat maak jy hier?

Elia het gevlug. Hy het genoeg gehad. Isebel se dreigemente was een te veel vir hom. Wanneer hy uiteindelik 40 dae stap tot by die berg Horeb is dit die Here se vraag aan hom: “Wat maak jy hier?”

God openbaar Homself daarna aan Elia..nie met die stormwind, die aardbewing of die vuur nie, maar in die fluistering tydens die windstilte. Elia kry nuwe krag om te doen wat hy moet doen.

Wanneer die matrieks die nagmerrie beleef van twee vraestelle wat oorgeskryf moet word simpatiseer die skoolhoof met hulle in ‘n stemboodskap. Dan onderstreep hy die feite en kom tot die punt: “It is what it is”. Hy motiveer hulle om op te staan, die hou te vat en uit te styg.

Wanneer Ester gekroon word is dit haar oom wat besef dat sy dalk juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie koningin moes word…..om ‘n volk te red.

Die tyd waarin ons leef is nie altyd maklik nie. ‘n Vriendin van my skryf ‘n aandoenlike stuk oor die verval in haar dorp. Sy gebruik ou liedjies om die verhaal in te kleur. Die veld is nie meer so vrolik nie, dis nie meer kinders wat in die water mors nie maar grootmense wat dit nie kan skoon hou nie. Siembamba se woorde is nie meer snaaks nie en Tula Tula maak niemand aan die slaap nie. Ek raak hartseer as ek dit lees want daar is soveel waarhede in. Ek besef ook as joernalis word jy aan soveel dinge blootgestel. Tog ken ek min mense met soveel integriteit soos sy en weet ek dat sy bedoel is om musiek te maak met haar woorde en haar koerant. Dalk juis in ‘n tyd soos hierdie waar ons Habakuk liedjies nodig het.

Toe die jong seun teen sy sin na Babel geneem is, is die grootste wonder nie uiteindelik dat die leeus hom nie verslind nie, maar dat ‘n regeerder daardeur ‘n diskreet sou rig aan al die volke, nasies en taalgroepe. Koning Darius gee opdrag dat Daniël se God deur sy hele koninkryk gevrees en geëer moet word en erken Hom as die lewende God. ‘n Merkwaardige erkentenis. Slegte mense se planne lei tot God se eer.

Soms kom mens in situasies waar jy besef: “It is what it is” Wat maak ons daarmee? Wat wil die Here daarmee maak? Dalk ‘n goeie tyd om op te kyk en opnuut te besef dat jy hier is vir ‘n rede. Juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie.

In die meeste gevalle het slegte mense slegte planne maar God kan dinge ten goede laat gebeur. As ons God soek in die storms, aardbewings of vure rondom ons sal ons dalk self verbaas wees as Hy Hom eerder in die fluistering laat openbaar. Soms moet ons juis na ander dinge en plekke kyk om God se grootheid raak te kan sien.

Dis in ‘n stal waar die Koning gebore is….. Daar was ‘n groter plan.

Tyd is in Sy hand. Die feit dat jy hierdie lees of hoor beteken dat jy gebore is om in hierdie tye te leef. Om nou ‘n verskil te maak.

Time is what it is. God is wat Hy is. Gister, vandag en môre. Dieselfde. Immanuel. God met ons.

Vandag is Elia se vraag dalk ook jou vraag: “Wat maak jy hier?”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories