Klippe sonder liefde
Hulle het haar tussen almal laat staan. Die vrou wat op heterdaad betrap is.. Dit het nie regtig oor haar gegaan nie. Eerder oor wat Jesus sou doen. Ek kon my net indink hoe sy moes voel. Skaam, bang, verneder. Jesus het niks gesê nie. Hy het in die grond geskryf. Later opgestaan. Genoem dat die persoon wat sonder sonde was die eerste klip kon gooi. Een vir een het die mense omgedraai en weggeloop. Die vrou het alleen agtergebly.
Die afgelope tyd moes ek myself kort kort herinner dat ‘n mens die bal moet speel, nie die man nie. Veral in situasies waar jy kwaad en gefrustreerd is.
Luister ek na die Amerkaanse politiek is ek verstom oor mense se reaksies. Die manier hoe hulle praat en optree. Sommige selfs met ‘n Bybel onder die arm. Asof dit jou gedrag kan regverdig.
Ek lees hoe mense die kerk uitmekaar wil skeur oor verskille. Om wat te bereik?
Ek wonder waar Jesus met al hierdie sake staan? Dalk is Hy lankal besig om op ‘n ander plek te werk. Besig met die dinge waarvoor Hy eintlik gekom het. Die kerkliedjie som dit mooi op: “Waar daar liefde is en deernis, daar is die Heer.”
Dis jammer wanneer kinders van die Here so verskil dat liefde verdwyn. Dis jammer wanneer ander mense dit raaksien en hul geloof in die proses verloor.
Jesus stuur nie die vrou weg omdat hy teen die reëls is en alles goedkeur nie. Hy kies egter ‘n ander manier om dinge op te los.
Daar is baie dinge waaroor gelowiges met mekaar kan verskil. Daar is baie politieke rigtings en verskillende hoeke waaruit ons kan kyk.
Jesus gee ons ‘n wenk dat mense Sy kinders sal herken aan hul liefde vir mekaar. Dit maak my nogals bang. Die beeld wat ons uitstraal is dikwels ver verwyderd daarvan.
Waar daar liefde is en deernis….daar is die Heer.
Hoe ons verskil en hoe gou ons klippe wil gooi hang dalk nie van ons af nie. “Sometimes when you have to choose between being right and being kind, choose kindness….” (uit die fliek Wonder)
Om in Jesus se voetspore te loop beteken dat ek anders dink, anders doen en anders glo.
Being right has a place, but being kind gets the reward….want daar waar liefde en deernis is, daar is die Here.