Wanneer mense moed verloor

” Bemoedig die wie se hande slap hang, help die wie se knieë knik, sê vir die wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier…. ” Jesaja 35:3

In ‘n moeilike week begin ek ‘n blog skryf oor my oudste wat my konfronteer oor plaasmoorde. Haar onskuldige oë sukkel om te verstaan…soos die meeste van ons. Wanneer fotos van die weghol veldbrande ons bereik breek dit my hart. Ek wys dit vir my seun. Sy oë skiet ook in trane.

Mense is kwaad, moedeloos, verbitterd. Verstaanbaar. Ander voel verontreg deur beskuldigings tussen swart en wit.

Ek stop my blog wanneer die omvang van die skade my opnuut tref. Soms is daar nie woorde wat seerkry en swaarkry sagter kan maak nie. Ek besef dat dit soms maklik is om te kan skryf as jy die berge uithardloop en deur die mooi fynbos betower word. Wanneer probleme ver voel en die lewe mooi. Dis ‘n totaal ander storie as dit ek moes wees wat tussen die dooie beeste staan, wat daagliks vir my lewe vrees.

Dis met hierdie uitkyk waar ek ook antwoorde soek. Antwoorde op vrae wat ek self nie verstaan nie. Ek maak die Psalms oop en begin lees. Ek staan opnuut verstom oor hoe dit inpas by vandag se dinge. Dawid en ander digters stort hul harte uit. Hul skets mense en gebeure asof dit nou is en verwoord soveel dinge wat ons ook voel. Hulle kla en sug en stoei met die Here. Hul pleit om hulp en beskerming. Kort-kort word hul herinner aan God se grootheid. Dan skep hul moed en kry dit selfs reg om Hom te loof en prys..

Ek lei my vraende kinders na Psalms …..’n veilige plek waar ons net kan wees. Bedoel vir alle lewensomstandighede. Wanneer dit goed gaan en ook wanneer die lewe nie sin maak nie. Wanneer jou eie woorde dalk sukkel om te kom. Ek moedig hulle aan om eerder saam te bid as om vingers te wys. Om spesifiek vir mense te bid wat swaar kry en moed verloor het. Díe wat self nie meer kan bid nie.

Jesaja 35 kry nuwe betekenis. Dit bring ons tot verantwoording en gee ons die opdrag om mekaar op te help en te bemoedig. Dit gee my dalk juis ‘n doel as ek bevoorreg genoeg is om die berge te kan uithardloop en in ‘n mooi omgewing kan bly.

Ek dink aan ons land en al sy dinge. Ek sou so graag my kinders teen al die slegte nuus wou beskerm. Trane van teleurstelling en onbegrip. Soms is dit nie moontlik nie. Tog het ons ‘n keuse hoe ons hul toerus. Dis ons verantwoordelikheid om hul deel van die oplossing te maak. Leer hulle om die Bybel oop te maak en vir mekaar te bid. Om mense te bemoedig en ander te help. Om begrip te hê vir mense wat anders na die lewe kyk. Om nie te veralgemeen nie en nie te gou te oordeel nie. Plant saadjies van geloof, hoop en liefde…ewige saadjies…

Mag ons kinders dit uitroep: “Wees sterk, moenie bang nie. Ons God is hier!”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap