Dit wat jy dink
” We dont know where were going, we don’t know what’s going to happen but no one can take away from you what you put in your own mind…”
Wyse woorde van ‘n ma aan haar kind. Min wetend dat sy ‘n ruk later met haar lewe sou boet maar dat dit die woorde sou wees wat haar dogter sou leer om te vlieg.
In die boek The Choice deur Edith Eger stap ons ‘n merkwaardige pad saam met ‘n jong Joodse ballerina. Sy oorleef Auschwitz kamp met al sy gruwels en tel met moeite haar lewe op. Aanvanklik vlug sy weg van alles in haar verlede maar uiteindelik neem haar lewensreis haar terug na Duitsland, na haar nagmerries, vrese en selfverwyt. Dis daar waar sy besef dat jy met jou kop kan besluit of jy ‘n gevangene gaan bly of nie.
Haar verlede word ‘n trap na ‘n lewe waar sy kies om te leef en om vry te wees. Sy kies om te fokus op wat sy het en nie op wat sy verloor het nie. Haar keuses kom nie maklik nie maar geleidelik raak sy vry om waarlik te leef.
Dis met hierdie boek in my gedagtes waar ek opnuut besef hoe kragtig ons gedagtes, dit wat ons dink in ons lewe is. Dit het die mag om ons gevange te hou of vry te maak. My teksvers van die dag kom uit Romeine 12:2 Dit gee raad hoe ons dit kan regkry om anders te dink “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe….”
Ons aandag kan so maklik afgetrek word deur alles wat rondom ons gebeur. Wanneer ek in Psalm 8 lees dat vyande en wraakgieriges tot swye gebring word wanneer kinders en suigelinge die Here se lof besing besef ek die waarde van lofprysing. Daar is soveel beloftes in God se woord wat ons kan vat en waarmee ons ons koppe vry kan hou van slegte gedagtes. Ons beroof onsself van skatte deurdat ons prioriteite ons wegrokkel van Sy woord. Ons laat toe dat die media ons koppe oorheers en neem nie verantwoordelikheid vir dit wat ons toelaat om in ons nes te maak nie.
Edith Egar inspireer my omdat sy die effek van die verlede op haar lewe erken maar nie toelaat dat dit haar gevange hou nie. Sy maak doelgerigte moeilike keuses om anders te dink. Dit maak haar vry!
Om vasgevang te word in die verlede kan net so nadelig wees as om te ver in die toekoms te wil leef. Die Here belowe krag vir elke dag. Nuwe genade. Hy noem ons Sy kinders. Hy belowe dat Hy by ons is.
Die wêreld kan baie dinge van ons vat maar nie wat ons toelaat in ons koppe nie. Mag ons met lofprysing die vyand stil maak. Mag ons beheer neem oor ons denke en Hom toelaat om ons nuut te laat dink.
“The only place where we can excercise our freedom of choice is in the presence.”
Die keuse is joune….