Die natuur roep uit

Dit was ‘n vreemde gesig. Gemaskerde gemeentelede elkeen op ‘n stoel met groot spasies tussenin. Dit was seker nie veronderstel om so vreemd te voel nie. Ons was immers al gewoond aan die maskerding en afstande. Dit was egter die eerste Sondag dat ek met my kitaar in die hand musiek moes maak. Sonder dat iemand saamsing.

Terwyl dit buite reën dink ek aan die damme wat vol is en hoe naby ons was aan dag zero. Noodkrete om hulp. God het wonderbaarlik voorsien!

Die derde lied roer my hartsnare: ” Praise Him you heavens and all that’s above….praise Him the Sun, moon and bright shining stars…..waters and sky. Let the whole world praise Him!” Terwyl ek die woorde sing en vir ‘n oomblik al die stemme rondom my mis tref dit my skielik: Die natuur kan nie stilbly nie. Die helder sterre, die sonsopkoms, die waterstrome, nuwe blare. Wanneer ons stilbly sal die klippe dit uitbasuin! Ons maskers is nie ‘n bedreiging vir God nie, net so is God nie afhanklik van lippetaal nie.

Wanneer 1 September aanbreek wonder ons wat van die lente geword het? Die Kaapse berge lê dik van die sneeu, die wind waai en dis koud. Nog reën. Tot op ‘n dag in Oktober wanneer jy skielik besef dat dit vroeg reeds lig is. Jy hoor die voëls sing en sien bome vol nuwe groen blare. Dit het gebeur. Ongemerk. Lente het opgedaag. Die winter het sy bes probeer maar hy kon dit nie keer nie.

Agter die maskers hoor ek brommende stemme. Halleluja’s wat net God kan hoor.

“Ek sien die veld, die bosse, berge, vlaktes. Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind. O Heer U sorg vir klein vir groot vir alles en U sorg dag na dag vir my U kind….”

Daar is hoop in nuwe blare. Daar is hoop in God.

Mag die skepping ons opnuut inspireer dat God groot is. Dat die winter nie vir altyd bly nie. Dat die son elke dag weer opkom. Nuwe krag. Genade. Mag ons Sy heerlikheid ervaar en raaksien. Mag ons daarin Vrede vind.

“Vrede laat ek vir julle na, my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moenie ontsteld wees nie, en julle moenie bang wees nie.” Joh 14:27

Praise Him you heavens and all that’s above!

U sorg vir klein, vir groot, vir alles. Vir my en ook vir jou….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories