Plant ‘n Wilgerboom wanneer die lewe jou teleurstel.

Dikwels voel die lewe nie regverdig nie. Slegte dinge gebeur met goeie mense. Die een wat die hardste werk is nie noodwendig die een wat die prys kry nie. Vir die een ou loop die pad maklik en glad, vir die ander ou is elke pad vol bulte en teleurstellings.

Sommige pleit en bid maar dit gebeur nie. Ander kry die kroon wat jy ook wou dra. Jy voel geweeg en te lig bevind. Opstaan aanhou en weer probeer.

Wanneer ons God se guns in geleenthede wil meet loop ons op ‘n wankelrige pad en mis ons dalk juis Sy beloftes. ‘n Balkie, ‘n prys of selfs ‘n bevordering is nie noodwendig vir Hom belangrik nie. Prestasie waarborg nie geluk nie. Baie van hierdie dinge is kortstondig en hou geen ewigheidswaardes in nie. Dit lei ons na hoogtes waar ons die uitsig mag geniet maar kan ons ook oor die afgrond stuur. Om God se wil te soek bly ons beste wapen. Dan raak elkeen nuttig wat vir Hom beskikbaar is.

Soms gebruik die Here ‘n skoonheid en maak haar ‘n koningin vir ‘n rede: Esther wat ‘n nasie red. Ander kere gebruik Hy iemand wat wegvlug en nie kan praat nie: Moses lei die volk na die beloofde land. Hy gebruik ‘n skinker om ‘n stad te herbou: Nehemia. Hy gebruik mense wat te jonk voel en ander wat dink dat hulle te oud is. Tollenaars en vissermanne. Mense wat moed aan die dag lê om dit te doen wat die Here op hul harte lê. Leiers, doeners, gewilliges, onbekwames…

Wanneer ek vir my kinders bid is dit die belofte in Jesaja 44 wat ek aanroep..: ” stort U Gees op my kinders. Mag hul uitspruit soos wilgerbome langs waterlope…mag hul aan U behoort…” Dis die dinge wat eintlik belangrik is.

Soms is daar dinge in die lewe wat nie sin maak nie. Word jy dalk deur stelsels geweeg en te lig gevind. God se skaal meet anders en sy beloftes staan vas. In Hom is ons toekoms seker en ons waarde genoeg. Of jy 1, 2 of 5 talente het, Hy wil jou gebruik.

‘n Wilgerboom langs ‘n stroom, so is die een wat vreugde vind in God se woord….Op die lewenspad het almal koeltebome nodig.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories