Die groot gevaar
Hy was 18 jaar in ‘n Chinese gevangenis. Hulle was brutaal behandel en moes daagliks harde arbeid doen. Sonder skoene, in bittere koue en meestal honger. Toe daar uiteindelik ‘n einde aan die gevangenisskap kom, was hul net twintig persone wat die kamp oorleef het. Hy noem dat sy lewe dikwels in gevaar was. Die grootste gevaar vir hom was egter dat hy sy meegevoel en omgee….sy “compassion”, vir die Chinese wagte kon verloor.
Dis woorde wat my bybly terwyl ek nog ‘n hoofstuk uit “The book of Joy” deur Douglas Abrams lees. In my eie worstel oor dinge in die samelewing die afgelope tyd laat dit my wonder wat regtig ons grootste gevaar is? Ons kan dit ‘n naam gee as misdaad, korrupsie en selfs ‘n virus met die naam Corona…..maar is dit regtig so?
Wanneer my seun oor die muur spring om sy sokkerbal te gaan haal terwyl die buurtannie in die hospitaal lê, wil sy ‘n oorval kry omdat hy dit gedurf het om haar eiendom sonder haar toestemming te betree. Ek luister verstom. Wat maak die lewe aan ons dat ons later almal wantrou en vergeet hoe dit was om kind te wees?
Ons maak ons heinings hoër en laat toe dat vrees, woede en bitterheid in ons harte nes maak. Is dit nie dalk die grootste gevaar nie?
My teksvers van die dag uit 1 Korrintiers 16 pas daarby aan: “Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! Laat alles by julle in liefde geskied.” Net die vorige dag lees ek in Kolossense 3 dat ons die uitverkore volk van God is en daarom meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam moet wees. Wat gebeur met al hierdie eienskappe?
Dis asof ons aanvaar dat hierdie verse nie van toepassing kan wees in die tye waarin ons leef nie. Tog is hierdie opdragte ook in moeilike tye geskryf, Vir mense soos ek en jy. Dalk is die grootste gevaar nie wat buite gebeur nie maar wat ons toelaat om in ons binneste te gebeur. Miskien kort ons wysheid hoe om ons huise te beskerm sonder dat ons harte in die proses beroof word.
Dis in ons binnekamer waar ons waaksaam moet bly en bid. Die wapenrusting moet gebruik en ons met God se woord moet vul. Die grootste gevaar is nie wat die vyand met ons land doen nie maar wat hy regkry om met ons harte te doen. Vrees, bitterheid, woede, liefdeloosheid….
Ons kan dalk nie wegkom van die hoë mure en veiligheidshekke nie. Ons gaan ook nie elke bal kan keer of gaan haal nie. Soms gaan ons ons vasloop in ander se vrese en bitterheid.
Hoe ons ons harte bewaar dra die sleutel van ons ewige geluk. Dit hou die gevaar buite en sorg vir vrede in ons binneste. Daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan…