Patches

Sy naam is Patches. Om al die seerplekke gesond te maak. Die datum op Patches se geboortekaart is die dag na die operasie. ‘n Build-a-bear geskenk van haar tennisafrigter. Dis kosbaar vir baie redes. Nie net omdat die beertjie pragtig is of omdat die datum ons aan die ongeluk kan herinner nie, maar omdat dit vertel van mense wat omgee. ‘n Afrigter wat bloei vir sy sport maar meer nog vir sy leerling se seerkry.

Patches verteenwoordig drukkies, teddies, sjokolade, oproepe en omgee boodskappe. Dit verander ‘n swart prentjie in ‘n kleurvolle verhaal. Dis daardie dinge wat my sportiewe kind weer laat glimlag. Dit verander nie haar gebreekte arms nie maar dit verander haar uitkyk.

Met die baie donkerte in ons land besef ek meer as ooit hoe nodig ons “patches” het. Omgee kan nie alles regmaak of verander nie maar dit kan ons uitkyk verander. Dis die omgee van bure en vriende wat mense moed gee om voort te gaan, soms te midde van hartseer omstandighede.

Soms is “patches” dalk net ‘n sagte woord, ‘n kompliment of omgee boodskap. Soms raak dit prakties en word dit ‘n kospakkie of ‘n stukkie bederf. Dikwels word ons “gee” gebore in oomblikke waar ons self seergekry het.

Interessant dat ek na jare weer die fliek Patch Adams ontdek, ‘n paar dae voor die rampspoedige ongeluk! Die mediese student leer uit sy eie slegte ervarings dat ons almal op ‘n manier dokters kan word wanneer ons na mekaar luister en omgee. Baie keer het genesing min met gesond word in gemeen.

Wanneer iemand val en haar arms breek het jy bekwame dokters nodig om die arms reg te buig. Dis egter gewone mense met omgeeharte wat die grootste verskil kan maak.

Miskien moet ons in hierdie tye moeite doen om Patch-mense raak te sien en te waardeer. Juis in donker tye waar ons sukkel om oplossings vir al die probleme rondom ons te kry. In die meeste krisisse was daar iemand wat ‘n hand kom gee het. Ons hoef nie almal ‘n Patch Adams of ‘n dokter te wees nie maar êrens beskik elkeen oor die vermoë om met sy of haar gawe pleisters op seerplekke te kan plak.

Mag Hy, deur Sy krag, ons liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak…..Paulus se gebed in Tessalonisense 1:11

Plak vandag ‘n pleister waar jy kan. Wie weet, môre is daar dalk weer iemand wat jou wonde skoonmaak en verbind.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap