Kan jy die son vang wanner dit donker word?

Ek het erken dat sy my E-hond is, amper soos ‘n E-bike. Dit was nooit die bedoeling nie. Ek draf immers al jare op my eie. Sy moes net my maat wees. Hoe fikser sy geraak het, hoe sterker het sy begin hardloop. Nou raak die bulte saam met haar al hoe makliker, danksy die lyfband tussen my en haar.

Vanoggend was dit weer so. Ons het die moeilike roete gevat. By die bopunt het ek gestop en haar losgemaak. Dis n veilige deel waar sy op haar eie kan hardloop. Ons het verstom gekyk hoe sy met ‘n vaart wegtrek. Vry om te hardloop soos nes sy kan. Vinniger en vinniger. Sonder dat iets haar terug hou. Ek het stilweg gewonder of dit min of meer was wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat ons ons laste vir Hom moet gee…

Die versie van die week het uit Filipense 4:8 gekom. ” Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is….daarop moet julle julle gedagtes rig.”

In ‘n week waar paaie versper word, betogings hand uit ruk en die skole weer toegemaak word is dit nogals ‘n moeilike versie. Een van daardie verse wat nie bedoel kan wees vir hierdie tye nie. Niemand is immers blind nie. Wanneer ek egter mooi gaan lees in Fillipense besef ek dat Paulus dit uit die gevangenis geskryf het. Juis in moeilike omstandighede. Dit sou ook nie sin maak om hierdie tipe aanmoediging te skryf wanneer alles rondom jou net mooi gelyk het nie.

Hoe kry jy dit reg om steeds die mooi in mense en dinge raak te sien wanneer so baie dinge verkeerd loop?

Ek vind die sleutel in die vers voor dit waar Paulus raad gee wat om met ons bekommernisse te maak; ” Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Dis slegs dan wanneer iets merkwaardig gebeur. ‘n Vrede wat alle verstand te bowe gaan begin oor jou hart en gedagtes waak…amper soos n skerm rondom jou. Ondenkbaar.

Dis wanneer Lappies losgemaak word wat sy regtig voluit kan hardloop. Dis wanneer ons ons sorge by die Here los waar ons vorentoe kan beweeg. Nie om ‘n blinde oog te hê vir alles wat gebeur nie maar dit juis na God te neem. Met Hom daaroor te praat dalk voor ons met mekaar daaroor praat.

Om die mooi raak te kan sien in moeilike tye het niks met jou positiewe denke te doen nie maar eerder in die vermoë om jou kommer na Jesus te bring. Dis wat die verskil maak.

Kyk of jy vir my die son kan vang….wanneer die sonsondergang my betower is dit presies wat ek my hart toelaat om te doen.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories