Die donkerte kon dit nie keer nie

” Die Lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” Johannes 1:5

‘n Hele ruk gelede wou ons ‘n teksvers aan die kinders verduidelik. Ons het al die ligte in die huis afgesit. Dit was al aand en baie donker. Ek het die kleinste flitsliggie aangesit. Skielik was dit lig. Die grootste donker kon die kleinste liggie nie keer nie. Ek het verduidelik dat dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat ons die Lig vir die wêreld moet wees. Klein of groot. Ons is ook nie veronderstel of weg te kruip. Wie sal tog ‘n liggie onder ‘n emmer sit wanneer dit donker is? Die boodskap was treffend en duidelik en tog ook iets waaraan ek in hierdie week opnuut herinner moes word.

Terwyl ek werk toe ry kyk ek amper moedeloos om my. Soveel mense in moeilike omstandighede. Soveel uiteenlopende probleme en opinies. Soveel moorde en onluste. Soveel duisternis.

Terwyl ek die donkerte rondom my ervaar tref die teksvers wat ek net die vorige aand gelees het my tussen die oë. Duisternis kon die Lig nie uitdoof nie.

‘n Nuwe kalmte daal oor my neer. ‘n Wete dat ons baie plekke kan skyn maar dat die juis in die donker is waar God ons wil gebruik. Dat ons nie net hier is om te oorleef nie. Dat ons juis nie onder ‘n emmer mag wegkruip nie. Die donker het lig so nodig.

Wanneer my vingers blaai na Psalm 18 staan vers 29 uit: “U, Here, laat my lamp helder skyn, my God gee lig as dit donker is om my….”Dit troos om te weet dat die lig nie uit myself hoef te kom nie maar bloot deur my kan skyn.

As ek om my rondkyk sien ek lig gebore in omgeegroepe, uitreikaksies, werkskepsessies. Soms is dit die sagte kombers vir iemand wat koud kry tydens haar chemoterapie wat die grootste verskil maak.

Die tye waarin ons leef is nie maklik nie. Soms voel dit eenvoudig makliker om te vlug. Raak ons moeg vir omgee en wil ons eintlik net gemaklik lewe. Duisternis het baie fasette en in elke land is daar mense wat sonder hoop lewe. Ons hoop lê in die wete dat geen duisternis die Lig kon uitdoof nie.

Here in hierdie oomblik is dit my gebed dat U dit lig sal maak in ons lewe en in ons land. Vul ons met moed en nuwe krag en skyn deur ons asseblief. Wys ons waar U werk en wat U van ons verwag en help ons om nie so weg te kruip dat die Lig verlore gaan nie.

‘n Klein flitsliggie was goed genoeg. Sonder ‘n emmer. Lig verdring duisternis.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories