No turning back…

Ek het gewens dat ek die tyd kon terugdraai. Dat ek liewers self die maatjie huistoe gevat het, dat ek hul gekeer het om die fietse te vat. Ek het gewens dat ek die ongeluk kon keer. As ek maar net geweet het…

In die nag slaap ek sleg. Ek stoei met die ongeluk en al die seerplekke. Ek dink ook aan die musiekeksamen waarvoor sy so hard gewerk het en die tennis wat sy nou vir ‘n ruk nie sal kan speel nie. Ek dink aan al die lekker dinge wat ons wou doen. Nou dit. Twee gipsarms in ‘n hospitaalbed.

Hoe hou mens op om terug te kyk? Hoe stop jy die drome wat jou teister?

‘n Ou liedjie kom in my gedagtes. ” No turning back, praise the Lord no turning back.” Ek moet hard dink by watter woorde die lirieke inpas. Dan onthou ek…’ n liedjie wat eintlik daaroor gaan as jy vir Jesus kies kyk jy vorentoe. Stadig onthou ek sinne.. “The cross before me, the world behind me…..no turning back, praise the Lord, no turning back. Why don’t you join me and follow Jesus…..no turning back, praise the Lord, no turning back.”

Ek kry my antwoord. Die lied raak ‘n kussing wat my gedagtes van die gebeure af weglei en my help om vorentoe te kyk. The cross before me…..dis waarop ons fokus. Ek wonder vir ‘n oomblik waarvoor ek Hom moes prys? Soms is dit ‘n moeilike opdrag. Dalk dat my dogtertjie oppad hospitaal toe vra dat ek vir haar moet bid. Dat sy Jesus ken in ‘n krisis. Arms en bene raak weer gesond. Wonde raak weer heel. Sy sal weer kan tennis speel en ook weer klaviereksamen kan doen….alles op sy tyd.

Nou kyk ons vorentoe. No turning back…die ongeluk het klaar gebeur. Dis verby. Ons kan nou net gesond word.

In ‘n eenmanvertoning ‘n paar jaar gelede worstel die akteur Erik Holm ook met die vraag hoe jy dit kan regkry om ‘n nuwe hoofstuk in jou lewe te begin wanneer die lewe ander draaie loop. Dis na aanleiding van die duikongeluk waarin hy verlam geraak het. Sy antwoord tref my en ek onthou dit steeds: ” Jy tel die pen op en begin weer skryf.”

Baie mense gaan deur slegte dinge. Dikwels is daar nie pleisters wat die wonde gesond kan maak nie en ook nie gips vir gebreekte harte nie. Daar is net 1 keuse. Vorentoe. Aanhou beweeg. Om die pen op te tel. Tyd vir ‘n nuwe hoofstuk. Saam met Jesus is jy nooit alleen nie. No turning back….

“Ek is tot alles instaat deur Jesus wat my krag gee…”Fil 4:13. Dis waaraan ek vashou en dis waarvoor ek Hom kan prys.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap