Wanneer die lewe ‘n raaisel bly

Die som het oulik gelyk. Tussen die haas, die olifante en die ape moes jy uitwerk hoeveel diere by die water uitgekom het. Verskillende antwoorde het ingestroom. Sommige was bloot wiskundig verkeerd. Ek het laat in die aand self ‘n antwoord gewaag. Dit was verkeerd. Vroeg die volgende oggend het ek weer probeer. Hierdie keer met ander oë. Die antwoord was in die kol!

Vreemd hoe logies iets lyk as jy die antwoord ken. Al die antwoorde en interpretasies van een som het my egter opnuut laat besef hoe verskillend ons uitkyk op die lewe kan wees. Dikwels hang dit af van die hoek waaruit ons kyk of wat ons raaklees of verstaan.

Reg vir een is dalk nie altyd reg vir ‘n ander nie. Wat sin maak vir jou is onverstaanbaar vir iemand anders. Die Here werk op vreemde maniere en dikwels soek ons antwoorde op die verkeerde plekke.

Wanneer 3 gesinne se lewens deur ‘n brand vernietig word ontstel dit my. Dit maak nie sin nie. Laggende kindergesiggies in die koerant. Gesinsfotos met mooi getuienisse. Stukkende mense bly oor. Ek ken hulle nie maar ek sukkel om te slaap. Daar is nie antwoorde nie.

Wanneer ‘n stad geruk word deur ‘n ontploffing is daar wanhoop en duisende vrae. Te midde van die puinhope haal ‘n aangrypende getuienis die nuuskanale. Meer as 200 kinders en ander mense se lewens is waarskynlik gered deurdat ‘n pastoor van ‘n naby geleë Bybelskool ‘n angstigheid ervaar het en almal huis toe gestuur het. Min wetend dat die vensters in dieselfde skool ‘n ruk later uitgeruk sou word.

Daar is tye wanneer redding betyds kom, ander kere nie. Soms wens ons dat die lewe so eenvoudig soos die raaisel was. Waar dinge uiteindelik sin maak as jy terug kyk en die regte antwoord ken.

Ek wonder of dit deel is van die dowwe spieël waarvan Jesus praat? Dinge wat ons eers eendag volkome sal verstaan?

Miskien moet ons aanvaar dat mense uit ander hoeke na die lewe kyk. Dat ons dalk op verskillende maniere by ‘n antwoord gaan uitkom. Dalk is reg en verkeerd minder belangrik en is lewe en dood nie die totale prentjie nie. Miskien is daar lewensraaisels wat nooit bedoel was om verstaan te word nie.

Wanneer ek lees dat hierdie gesinne Jesus geken het weet ek een ding en dit is dat hulle nooit alleen was nie en ook nooit alleen sal wees nie.

Dit bring my by geloof. ‘n Vaste vertroue in ‘n God groter as ons. Soms so moeilik…

Here, in hierdie blog gooi ek ons seerkry voor U voete neer. Die lewe se raaisels wat ons nie verstaan nie. Help ons om te bly glo. U het hierdie stukkende wêreld reeds oorwin. Mag ons steeds ons vrede in U vind. Johannes 16:33

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap