Die Klavierspeler van Yarmouk

Hy het bekendheid verwerf as die klavierspeler van Yarmouk, ‘n Palestynse vlugtelingskamp in die oorloggeteisterde Damaskus. Dit was nie sy doel nie.  Musiek was bloot die enigste taal waarin hy iets van hul stryd kon vertel.

Aeham Ahmad se storie gryp my aan. Sy blinde pa wat van kleins af vir hom viool speel en hom met moeite klavier laat neem by ‘n erkende musiekskool aan die ander kant van Damaskus. Op 13 jarige ouderdom het hy self met sy fiets skool toe gery. ‘n Rit wat hom ‘n uur en 40min neem. Jare later word hy saam met sy familie vasgevang in Yarmouk “kamp”. Hulle is honger en leef in haglike omstandighede. Op ‘n dag besluit hy om sy  klavier in die straat uit te stoot. ‘n Ongewone gesig! Musieknote breek die stilte en versag die klank van geweerskote. Wanneer die kinders saam sing laat dit mense glimlag te midde van puinhope en swaarkry.

In ons omgeegroep ondersoek ons God se doel vir ons op aarde. Wanneer ons in Johannes 3 lees dat Jesus nie gekom het om die wêreld te veroordeel nie maar om mense te red verklaar dit dalk soveel dinge wat ons nie verstaan nie. Sinnelose oorloë en geweld maak nie sin nie. Waar pas ons in die prentjie? Om in ons stukkende wêreld sin te vind moet ons dalk nader aan God se hart beweeg.

Die klavierspeler gee ons ‘n kykie van ‘n wêreld waarvan ons min weet. Ons hoor op die nuus van Syrië, Palestina en Israel maar die oorlog is ver van ons. Ons is immers gemoeid met ons eie stryd. Slegte mense wat wrang smake in ons eie omgewing bring. Wat is ons rol hier?

‘n Paar weke nadat ‘n geliefde pasient van my sterf weens Covid-19, kom besoek sy vrou my. Terwyl ons albei trane afvee onthou ons sy mooi manier van praat en sy omgeehart. Sy vertel hoeveel mense haar gekontak het wat sy nie eers van geweet het nie. Een het genoem dat haar man altyd by hom petrol ingegooi het en altyd met hom gesels het. Dikwels is dit die gewone kontak met mense wat sin gee aan die lewe.

Wanneer 2 vroue getuig oor die rampspoedige nag toe 10 geliefdes en vriende uitgewis is deur ‘n brand sien jy ‘n vrede in hul harte wat alle verstand te bowe gaan. Slegs Jesus se vrede.

Ek lees in Efesiërs dat ons ons krag kan vind in die Here en in Sy groot mag. Ek lees egter ook dat ons bereid moet wees om die evangelie van vrede as skoene aan ons voete te trek.

Waar ons ookal bly het ons ‘n verantwoordelikheid. Om ‘n verskil te maak met ons gawes en passies.  Hoe anders ons ookal hierdie wêreld wil hê, Jesus het gekom om mense te red. Wanneer ons Sy kinders word nooi Hy ons om deel van Sy plan te word.

Terwyl ek oor baie dinge worstel is dit die stories tussenin wat die prentjie inkleur. ‘n Klavierspeler te midde van ‘n oorlog,   vrede te midde van ‘n verwoestende brand, ‘n getuigskrif te midde van covid-19.

Soms moet ons ver kyk om oor die toekoms te besin maar so nou en dan moet ons dalk besef dat die sin van die lewe in die dinge rondom ons gevind kan word. Ander se stories help ons om weg te kyk van onsself en ons eie begeertes.

Ons diepste begeerte is uiteindelik om God te vind. Ek vind Hom graag in die berge, by die see, as ek ‘n sonsondergang bewonder en waar kinders lag. Sommige mense bly soekend al vind hul ander bestemmings. Waar vind ons God?  Soms op die ongewoonste plekke. Dalk juis daar waar mense verlore is. “Waar daar liefde is en deernis….daar is God.” Binne-in ons stukkende wêreld. Dis ons troos.

*******************************************************

naskrif….You Tube gerus: Ayham Ahmad – The Pianist of Yarmouk

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap