Psalm 37 in 2020

“Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie.” Dawid se woorde van lank gelede. Moeilike woorde en ‘n moeilike opdrag. Veral wanneer jou heinings hoër raak en jy kwaad en gefrustreed voel oor dinge wat mense aan ander doen.

“Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Soms moeilik om te verstaan as jy teleurgestel word en jou begeertes nie bewaarheid word nie.

“Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie, dit bring net ellende….”

Wanneer ek Psalm 37 lees bring dit my tot stilstand. Dit haal my van my spore af en help my om rustig te word. Dawid kies immers om anders na die lewe te kyk. Tussen sy eie stryd met mense wat hom wil doodmaak en bose planne beraam kry hy dit reg om anders te reageer. Nie omdat hy dinge goedpraat nie maar omdat hy weet wat goed is vir hom. Hy weier dat mense sy hoop ook steel.

Die probleem met ons kwellings is dat dit ons harte oorneem en uiteindelik alle vreugde steel. Ons lees koerant en kyk die nuus. Ons raak kwaad en gefrustreerd en sukkel dan om te slaap. Woon en werk raak ‘n stryd.

Dawid skryf breedvoerig wat die skelms alles doen. Dis nie asof hy sy oë toemaak en ‘n kunswêreld vir homself skep nie. Hy skryf egter ook neer wat sy God kan doen en hou vas aan Sy beloftes. Dis die verskil.

Uiteindelik bly dit ‘n konstante keuse. Waarmee maak ek my vol, hoe reageer ek op dinge en wat kies ek om te glo. Wat maak dat ek in stilte op die Here kan vertrou?

Wanneer ek myself toelaat om God se vrede in te laat, gebeur ‘n vreemde ding, my las raak ligter. Ek kry dit reg om te glimlag en mooi dinge raak te sien. In plaas van om in opstand te voel terwyl ek die nuus luister oppad werk toe is dit die mooi wolke wat ek raaksien. Dit herinner my om op te kyk en aan te hou droom.

God sorg op vreemde maniere met gewone dinge. Hy bring ‘n protea op my pad wanneer teleurstelling aan my deur klop en wys my Sy omgeehart.

Om jou vreugde in die Here te soek is ons pantser teen die lewe. Dit word die skoene wat ons aantrek by die huis en oppad werk toe. Dit laat ons mense met deernis behandel. Dit bring hoop in ons hart en laat ons anders lewe.

Woon en werk rustig voort….ons koers is nie onseker nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories