Ons weet so min

“Jy is 67?”, wou ek bevestig. Sy het geknik en huiwerend geantwoord: “Jy kan so sê”. Ek het gewonder wat sy bedoel. Sy het terloops verduidelik dat sy by ‘n tante grootgeword het. Nooit haar pa geken het nie en dat die tannie destyds maar haar ouderdom geskat het…. Ek het stil geword. ‘n Wêreld waarvan ek niks weet nie is in daardie sin opgesluit.

Ons het verduidelik hoe die taxi moes ry. Vir ‘n ekstra R2 het hy haar by die spreekkamer kom aflaai. Dalk ook besef hoe verlore sy was. Sy was dankbaar vir hulp. Enige hulp.

Die bruinoog vroutjie was volgende. Op n vriendin se aanbeveling. Sy was moeg. Te kortasem. Seker die stres en lae yster het sy gedink. Covid-19 wat sy tol eis. Die bloeduitslae het ons almal onkant gevang. Opname, nog toetse, oorplasing. Daar was min tyd vir verduidelik. Een gesin se lewe verander in een telefoonoproep.

Ek wou huil terwyl ek sinnelose raad en opinies lees oor masker dra of nie, oor hospitaal toe gaan of nie en oor dinge waaroor sommige mense geen kennis het nie. Facebook met sy vals bravade. Ek wou uitskree dat dit nie jy is wat moet troos wanneer twee geliefdes na mekaar aan Covid- 19 sterf nie.

Ek wou jou vertel dat die vroutjie in die taxi nie gevra het om hier te wees nie. Sy het nie gekies om sonder ouers groot te word nie. Nie gevra vir die kanker in haar maag wat groter word nie.

Ek wou jou herinner dat die lewe kosbaar is en in ‘n oomblik kan verander. Dat die bruinoog vroutjie netsowel jy kon wees.

Ek het opnuut besef dat ons stories nodig het. Mekaar se stories. Om te hoor van sommige se grootwordjare en ander se opdraendes. Om te besef dat alles in die lewe nie so belangrik is nie en dat baie dinge nie met geld gekoop kan word nie.

Ek word dankbaar waar ek sit. Vir my grootwordjare, my motor, my gesondheid. Wanneer ek ‘n ander se storie hoor kyk ek met sagter oë na daardie persoon. Nie noodwendig omdat ek alles verstaan of goedkeur nie maar dalk juis omdat ek so min verstaan.

Dalk help dit ons om minder vinger te wys, te kritiseer en blinde raad te wil gee. Mag ons liefde eerder toeneem met begrip en fyn aanvoeling om te kan onderskei waaroor dit regtig gaan. Paulus se gebed in Filippense.

Dalk ook die gebed vir my en jou vir hierdie dag…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap