Gesondheid uit ‘n ander hoek

Almal stap by ‘n spreekkamer in met ‘n verwagting. Meestal is dit vir medisyne om gesond te word. Soms maak ons gesond maar dikwels kan ons net iemand se simptome verlig. Baie keer soek ons die groter prentjie. Hoekom jy regtig hier is, hoekom jy so gereeld siek word en hoekom medisyne sukkel om te werk. Jy kan nie jou familie kies nie maar jy het ‘n keuse om jou leefstyl te kan aanpas. Baie keer is my grootste taak om net te luister. Soms is dit om iemand se hand vas te hou. Ons probeer siektes voorkom en ons gee raad hoe om gesond te bly. Daar is baie dinge wat ons graag sou wou verander maar nie kan nie.

Met die Corona-virus is daar baie menings, baie stories en baie raad. Almal ken die simptome en weet van maskers en hande was. Sommige maak die siekte af as net ‘n griep. Ander ervaar dit angswekkend. Daar is mense wat regtig siek word en sommige gaan dood… Intussen is daar verkoues, sinus en gewone infeksies. Daar is vrees, spanning en afwagting. Die druk neem toe. Op almal. Om gesond te bly, ons gesinne te beskerm, om ons spreekkamer skoon te hou, pasiente gerus te stel, ander terug te bel, nuwe gevalle te toets, nuus oor te dra. Werkgewers se vrese aan te spreek en almal rustig te hou.

Vir sommige veroorsaak die virus ander sorge. Kopsere van rekeninge wat nie betaal kan word nie, werke in gedrang en mense wat wonder waar hul kos vandaan gaan kom. Hulle daag ook op by die spreekkamer. Heeltemal ander simptome. Slaaploosheid, spierspasmas, maagsere, angstigheid en depressies wat hand uit ruk. Ons luister en gee medisyne waar ons kan. Covid-19 maak dit moeilik om jou hand vas te hou.

Terug by die huis word ek stil. Die groot Geneesheer luister graag. By Hom is daar ander medisyne. Dit bring genesing al maak dit nie altyd gesond nie. Ek laai krag in vir die volgende dag. Vir wysheid, insig en beskerming. Nuwe pasiente met nuwe verwagtinge. Sommige om gesond te word en ander vir iemand om te luister. Soms voel my hande afgekap. Ek kan baie dinge vir jou doen maar nie alles nie. Ek kan raad gee maar nie vir jou toepas nie, ek kan medisyne gee maar dit nie vir jou drink nie. Ek kan ‘n diëet voorskryf maar het nie beheer hoeveel jy eet nie.

Ek kan vir jou vertel wat ek sien maar ek kan nie namens jou by die venster uitkyk nie. Elke persoon stap sy eie pad. Ons is in dieselfde storm maar nie noodwendig in dieselfde boot nie. Wat vir my werk is dalk nie jou oplossing nie. Ons kan nie alles in die lewe verander nie. Tog is daar ‘n groter Hand wat graag saam met ons in ons boot wil klim. Wat die storm kan stil maak. Wat vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Wat is jou verwagting?

Soms stuur die Here mense op jou pad om jou te help. Dalk met medisyne en dalk met raad. Hy gee jou die krag om dinge in jou lewe te verander. Soms moet jy moeilike keuses maak. Dinge wat net jy kan aanspreek.

Gesondheid. Die waarde wat ons eers besef as ons iets daarvan verloor. As ons agter maskers en skerms moet loop om onsself en ander te beskerm. Te midde van al ons pogings is goeie gesondheid nie altyd ‘n gegewe nie. Tog is daar goeie nuus: Dalk die antwoord op ons eintlike verwagting: Genesing. Altyd moontlik. Die verskil? Gesondheid spreek die liggaam aan maar genesing maak die siel gesond. Dit gee vrede. Dis wat Hy waarborg ….met of sonder ‘n gesonde liggaam…en dit maak ons heel.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap