Soms moet jy kies

Sommige mense sien die positiewe makliker raak as ander. Tog is daar tye wat almal moedeloos raak en ook wil weghardloop. Planne loop skeef, mense stel teleur. Daar is frustrasies en dinge waaroor jy geen beheer het nie. Wat maak dat sommige mense in dieselfde situasie die lig raaksien en ander net nag? Baie dinge kan ‘n rol speel. Jou agtergrond, persoonlikheid, ervaring…noem maar op. Daar is egter een ding wat uitstaan: Êrens maak jy ‘n keuse…

Wanneer my sussie kla dat al die onsekerhede haar onderkry, besef ek hoe waar dit is. Sy was nog altyd iemand wat die beste funksioneer met roetine en orde. Met covid-19 het soveel dinge verander. Die een oomblik was maskers sleg, toe is dit verpligtend. Dan begin die skool, dan nie. Niemand weet hoe die eksamens gaan werk nie. Werkgewers en werknemers is ewe onseker. Kry jy n krap in jou keel is jy dalk siek maar hopenlik nie. Dis die onsekerheid wat haar angstig maak soos vir baie ander mense, en die feit dat dit buite ons beheer is maak dit net erger.

Die vraag is hoe ‘n mens dit moet hanteer. Hoe verander jy jouself as jy van nature angstig en gespanne is?

In die aandoenlike fliek Taare Zameen Par leef die bruinoog seuntjie in sy eie wêreld. Hy is op sy gelukkigste as hy kan droom en prente verf. Wanneer hy egter probeer lees begin die letters dans en syfers speel speletjies in die lug. Hy hoor keer op keer dat hy dom is, lui of sommer net stout. Die vreugde in sy oë verander in vrees en sy verfkwaste lê later ongebruik in sy bedkassie. Hy sukkel om aan te pas in ‘n sisteem wat vir ander normaal is.

n Waaksame onderwyser gee uiteindelik ‘n naam vir sy probleem en vertel vir die klas van Einstein, Leonardo da Vinci en Picasso wat wêreldbekend geword het maar wie se letters ook gedans het. Die seuntjie kruip stadig weer uit sy dop soos hy leer om homself te aanvaar maar ook hoe om die beste van ‘n situasie te maak. Die onderwyser help hom met kreatiewe maniere om anders na letters en syfers te kyk. Ten spyte van sy disleksie, leer hy om te lees en skryf en sy verfwerk begin weer floreer!

Onwetend som hy iets van die lewe op wanneer hy in die klas ‘n gedig probeer verklaar: ” Whatever we see, we believe it’s there…and whatever we don’t see, we believe it’s not there…. but sometimes whatever we see, it’s not there… and whatever we can’t see, it’s there.”

Geloof het soms niks met sien te doen nie…Hoe ons na die lewe kyk maak egter of ons dinge kan raaksien of nie.

Ek dink aan my sussie en die orde wat mense nodig het om te kan funksioneer. Wat moet jy verander om te kan cope? Ek dink nie dat jy jouself noodwendig hoef te probeer verander nie. Dalk moet jy net jou orde soek op ‘n ander plek. Ons dien immers ‘n God van orde te midde van ‘n wêreld in chaos.

Om anders na die lewe te kyk begin dikwels met n keuse, nie n gevoel nie. Soms is daar ‘n goeie onderwyser of mentor wat jou kan help maar uiteindelik lê die besluit in jou hande.

Om te kan verf moet jy die verfkwas optel. Om jou drome te volg moet jy ‘n tree begin gee. Om God se orde raak te sien moet jy in Sy rigting kyk. Om sy beloftes te kry moet jy Sy woord oopmaak. Oor baie dinge het ons nie ‘n keuse nie. Tog kan ons kies wat ons lees en waarna ons kyk.

Dit begin met ‘n keuse….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap