Hoekom is jy hier
In ‘n tydskrif lees ek onlangs die volgende stelling: Vir elke persoon is daar twee belangrike dae- die eerste is jou geboortedag en die 2de is die dag wanneer jy ontdek hoekom jy gebore is.
Hierdie stelling hou my gedagtes besig. Hoekom is jy hier?
Ek dink aan bekendes uit die verlede wat bekendheid verwerf het vir ontdekkings. Mense soos Alexander Bell, Thomas Edison, Henry Ford…. Daar is ook bekende komponiste en kunstenaars. Beethofen, Mozart, Picasso. Plaaslik dink ek aan die ontslape skrywer, Elsa Joubert om maar net een te noem. Mense wat ‘n verskil gemaak het…
Maar hoekom is jy hier? Die meeste van ons gaan onwaarskynlik groot ontdekkings maak of meesterstukke skilder.
Ons word gebore en raak groot. Ons droom van dinge en raak besig. Sommige streef na rykdom en bekendheid, prestasie en geleerdheid. Groter huise met suksesvolle kinders raak dikwels leë huise en eensame ouers. Ons raak verstrengel met die lewe en word meegesleur deur al die probleme rondom ons. Waar sit ons die pot mis? Wat maak dat jy dalk eendag op ‘n stoep beland en wonder hoekom jy hier was?
Dis moeilik om te sien hoe my ouers ouer raak en hoe dinge al hoe moeiliker vir hulle word. Dieselfde moeder wat saam met my berge geloop het sukkel deesdae om enkele trappies te klim. Tyd staan vir niemand stil nie. Dis asof ons almal êrens op ‘n roltrap staan en stadig maar seker beweeg dit aan.
Dit bring my op ‘n manier by die Prediker wat self wonder oor die sin van sy bestaan. Hy kom tot die slotsom dat dit ‘n gawe is as jy kan woon en werk en tussen alles jou brood met vreugde kan eet. Mag ons berge klim terwyl ons nog kan. Dis daardie ervarings wat ons in ons skatkis laai vir eendag se onthou.
Dit bring my by jou.
Jy is hier omdat jy uniek is. Daar is dinge waarvan jy hou en waarin jy goed is. “GOD made no junk…” God skenk aan ons die lewe om te geniet, met verantwoordelikheid. Hy vul ons met krag en rus ons toe vir ons taak. Hy gee vir ons die natuur en herinner ons aan Sy teenwoordigheid. Daagliks kry ons die geleentheid om saadjies te saai op die pad wat ons loop. Die saadjies wat jy saai is die tuin waarop jy hoop…
Terwyl ons met ons roltrap aanbeweeg ontmoet ons mense op ons pad. Dis daar waar jy ‘n verskil kan maak.
Hoekom is ek hier?
Dalk lê die antwoord nie in my blog nie maar in my stilword by God. Ons is hier om Hom te verheerlik, ons gawes uit te leef en ‘n verskil te maak in ander se lewens. Saadjies het in in my lewe geval. Saadjies van hoop, geloof en liefde. Saadjies van my ma, pa en baie ander mense. Die wonder is dat niemand ooit te oud is om saadjies te kan saai en ‘n verskil te kan maak nie.
Om berge te kan klim is ‘n voorreg terwyl jy nog kan maar om saadjies te saai is dalk belangriker ….en miskien bring dit ons nader aan die rede hoekom ons regtig hier is.