Waar die wind waai

Die wind het erg gewaai. Ek was vroeg reeds wakker. Gewonder wanneer die reën gaan begin val. Ek het gedink aan Nikodemus en Jesus se gesprek oor die wind. Waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan. Onbekend, onsigbaar. Tog is sy effek duidelik. Kan jy hom voel en hoor. Dit tref my. Dis pinkster. Ek sluit my oë. ‘n Gebed vir Suid-Afrika. Waai Heilige Gees, waai daar waar ons nie kan kom nie, daar waar ons nie kan sien nie. Waai ook in my.

In die nag is daar donderweer en blitse. Ongewoon vir die kaap. Dis koud. Die koerant wys prente met sneeubedekte berge.Wanneer ek uiteindelik werk toe ry is my gedagtes besig. Die pad kronkel tussen boksies grys huisies. So baie uitdagings.

Dan, onverwags, vang my oog die reënboog. ‘n Kontras tussen die grysheid. Dit helder my dag op en laat my glimlag. Ek ervaar iets van God se beloftes. Ewigdurend. Ek haal rustig asem. Die koue vir ‘n oomblik vergete.

Dit bring my terug by pinkster. By God se opdrag aan sy dissipels: ” Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Petrus gryp die geleentheid aan. Die visserman word ‘n prediker. Hy skrik nie vir die grys en verwarde wêreld rondom hom nie. Vol van die Heilige Gees praat hy met gesag.

Waar pas ek in hierdie prentjie? Wat word daar van my verwag?

Ek kry die boodskap. Tussen die storms en die grys huisies moet ons aanhou om die reënboog te soek. In God se woord is daar beloftes van hoop wat ons daagliks kan vat. Deur Sy Gees is ons tot alles in staat. Ons moet wakker word en waaksaam leef.

Waai wind waai. Dit word my gebed. Waai in my, waai in ons leiers en in ons land…..waai so dat ons elke dag, meer en meer ‘n reënboog kan sien….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap