Kiekies van gister

Op die sosiale media word mense genomineer om vir 10 dae fotos te deel wat ‘n kykie gee van hul lewe as ‘n mamma. Fotos kruip uit van tye toe kinders klein was en mammas jonger as nou. Dit bring met tye heimwee en ‘n besef dat tyd voorwaar vlieg. Hoe is dit moontlik dat daardie klein seuntjie nou reeds langer as sy ma is en die dogtertjie met die haasbekkie nou ‘n skone jong meisie?

Ek dink aan die matrieks en graad 7’s wat ‘n teleurstellende laaste jaar beleef. Ek dink aan my eie kinders wat groot voel maar oor ‘n paar jaar weer klein gaan lyk op fotos. Dink ek terug aan ons jare in Engeland onthou ek nie die verlange huis toe nie maar eerder hoe ons trein gery het en getoer het, parke besoek het, in Harrods geloop het en Wimbledon gaan kyk het.

Soveel dinge raak later onbelangrik. Om buite te oefen het ekstra lekker geword omdat ons dit vir ‘n maand nie kon doen nie. Wanneer ek eendag dalk nie meer so lekker kan hardloop nie gaan ek waarskynlik terug verlang na die tye waar ek sorgloos my tekkies kon aantrek. Tye soos nou. Dalk sal ek verlang na die marathon wat ek met swaarkry klaar gemaak het…bulte lankal reeds vergete.

Ons skoolhoof se raad tussen al die onsekerhede is om te fokus op dit wat ons wil he ons kinders eendag van hierdie grendeltyd moet onthou. Dalk is dit die tennis speel in die straat, die Harry Potter luister boekvoorlesing saans of die saamkuier wat hul sal onthou. Die geskiedenisles en hande was lankal vergete.

n Mens kan nie die frustrasie ontken nie en hoef ook nie alles reg te praat nie. Bekommernis is eg en mense raak regtig siek. Tog weet ons dat ook hierdie tyd verby sal gaan. Gesondheid, familietyd. Dalk bloot geleende tyd. More se gister… Volgende jaar se kiekies.

Ek plaas my eie fotos met ‘n dankbare hart. Ek nomineer nog mammas om te onthou. Dalk sal ons eers eendag die waarde van vandag verstaan….

En nou? Kollosense1:11

Mag God, wat oor die mag en heerlikheid beskik, ons versterk en aan ons die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard. Ook my gebed.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap