Vertroue
Sy het nie verstaan wat aangaan nie. Elke oggend met opgewondenheid voordeur toe gestap. Afwagtend wanneer ek my tekkies aangetrek het. Hek toe en terug het dit nie vir haar gedoen nie.
Na die tweede week het sy berus. Steeds vroeg langs my bed kom le, gewag tot ek opstaan. Dan gestrek en saam voordeur toe gestap. In die tuin gaan skrop terwyl ek op die stoep my koffie drink of soos ‘n mal haas op en af in die tuin hardloop. Soms het sy ‘n ent saam gehardloop maar meestal net gekyk.
Toe breek 1 Mei aan. Dieselfde ritueel met een verskil. By die hek kon ek haar roep met die leiband in my hand. Sy kon haar oe en ore nie glo nie. Die opwinding het uit haar effens ronder lyfie gestraal. Ons het straat af begin hardloop. Uitbundig. Vinniger en vinniger asof ons nooit weg was nie.
In die strate is ons begroet deur ‘n wemelde mengsel van stappers met honde, fietsryers en drawwers. Die blare se herfskleure het my opgeval. Die masker het my swaarder laat asemhaal maar ek kon nie omgee nie. Hoe lekker het die lewe nie opnuut geproe nie. Dit wat ons so elke dag asvanselfsprekend aanvaar.
In die week lees ek dat die koninkryk van God met ‘n klein mosterdsaadjie vergelyk word wat groei tot die grootste boom. Op dieselfde dag, net n rukkie nadat Jesus hierdie vergelyking gedeel het, klim die dissipels saam met Hom op die boot. Hoe vinnig dat ‘n mosterdsaadjie kan verdwyn wanneer vrees en onsekerheid oorneem. Die wind en die branders maak hulle weerloos terwyl Jesus slaap.
Ek dink aan my hond wat niks van Covid en inperking verstaan nie, wat maar net eenvoudig moes aanpas. Syt getrou by my gebly, soos ‘n skaduwee my gevolg.
Ek hoor die kommer op die gonsgroepies oor die skole. Ek lees die kritiek oor die besluite wat die regering neem. Daar is so baie opinies. Vrese, frustrasie, kommer en hongerte. Ek sien die lyne op ons president se gesig en weet dit kan nie maklik wees nie.
Ek lees Psalm 131 en soos my hond elke dag getrou by my voete kom wag het, raak ek ook rustig. Ek sluit my oe in ‘n stil gebed: ” Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoe is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, nou en vir altyd.”
Die drafsessie was goed en ek voel so dankbaar. My hond slaap tevrede in haar mandjie. Ek tel die mosterdsaadjie van geloof op. Dis genoeg. Dit bring my by ‘n keuse: Om lewe te spreek. Om te bid vir ons leiers. Voor ons kritiseer. Om hoop te lewe. Daardie drie: Geloof,hoop en liefde…..