Spesiale klippies in my dam

Ek is vroeg reeds wakker. Dis vandag my boetie se verjaarsdag. Ek wil glimlag terwyl ek ‘n traan pik. Hy sou vandag 50 jaar oud gewees het. In my kop bly hy ‘forever” 27. Ek wonder hoe hy sou lyk? Sou hy nog so regop stap? Wat vier ‘n mens op hierdie dag? Sy geboortedag? Sy verjaarsdag vandag? Haak jy vas oor wat kon wees of vier jy sy lewensjare?

Ek glimlag en besluit: Ek vier vandag sy geboortedag, sy lewe en ewige lewe. Ek vier die rimpels wat sy klippies nou nog in my lewe maak. Sy verjaarsdag gaan nie net oor gister nie maar ook oor vandag. Dis nie net ‘n herinnering nie maar ‘n konstante in my lewe. Dit leef in my en my kinders voort.

Dood vir ons was net ‘n komma in sy lewe.

Op 50 kyk n mens gewoonlik terug na wat was en jy wonder of jy is waar jy gedink het jy sou wees. Die hemelse prys is ons groot beloning. Dis die een sekerheid wat ons moet he as ons dink oor die toekoms. Op 50 het Johann reeds die belangrikste doelwit bereik. Ons is nog oppad.

Hy het vroeg opgestaan en elke dag aangegryp. Hy het ver gehardloop, diep geduik en die lewe ingeasem. Hy het foute gemaak en geval. Hy het opgestaan en nooit sy anker verloor nie.

Ons kry elke dag die geleentheid om die lewe te vier. In en uit te asem. Elke dag kan ons klippies gooi om rimpels te maak. Dis nooit te laat om op te staan nie. Die belangrikste dinge is dikwels die mense rondom jou.

Vandag dink ek met n glimlag aan jou. Geluk met jou verjaarsdag! Dankie vir al die klippies wat jy in my dam gegooi het. Ek wil die lewe in en uitasem. My oog op Hom hou. Klippies van hoop in ander se lewens gooi.

Almal van ons het erens n geliefde wat in die hemel verjaar. Klaagliedere 3 troos en inspireer ons: “Maar dit sal ek ter harte neem en om die rede bly ek hoop: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut!”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap