Die Maandag na paasfees

En so het Maandag aangebreek. Ons het die kruisiging Vrydag herdenk, stil geword op Saterdag en Sondag met n lied in ons hart en paasbolletjies in die oond die opstanding gevier. Ons het God’s not dead gekyk en a Case for Christ. Ons geloof is opnuut versterk…

Toe breek Maandag aan. Gesinsdag. Wat nou verder? Die dissipels se harte was vol blydskap. Net die vorige aand het Jesus immers aan hul verskyn met die woorde: “Vrede vir julle!” En die opdrag: ” Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook.”

Ons nuwe normaal is vreemd. Vir die kinders is dit op n manier lekker maar ek kan ook sien dat die onsekeheid begin pla. Veral as koerante praat van skole wat dalk nog later kan begin sonder vakansie. Dalk geen sport? Ondenkbaar.

Vir die dissipels het n nuwe era aangebreek. Jesus se rol het verander en hulle rolle sou toenemend verander. Petrus die visserman, word die rots waarop Jesus Sy kerk kon bou.

Op n manier mag ons nie dieselfde bly as voor paasfees nie. Vir sommige mense is dit n U-draai, vir ander net n inspuiting om koers te hou. Covid 19 vleg deur ons paadjies of ons dit wil of nie. Jesus vleg saam.

God se vrede is steeds vir vandag bedoel, Sy roeping dieselfde. Dis net die uitdagings wat verskil. As my kinders die naaimasjien ontdek en ek hoeke en draaie in my tuin begin hardloop kry die lewe ander kleure. Moet ons vrede vind in ons eie huis. Dalk voordat ons gestuurders kan wees.

Maandag na Paasfees is in die middel van lockdown. Dalk die tyd om Jesus se vrede opnuut te vind. Ons probleme voor Sy voete neer te sit en raak te sien wat ons rol as sy gestuurders moet wees, Dalk was paasfees in lockdown juis bedoel vir n tyd soos hierdie.

As ons eendag in die geskiedenisboeke lees van Covid-19 met sy invloed op die ekonomie, die gesondheid en die skole mag ons ook onthou van n kosbare gesinstyd, van Paasfees en Jesus se vrede. Mag die Maandag na paastyd die begin wees van n nuwe hoofstuk.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap