Is jy ook blind?
Hy was van sy geboorte af blind. Wanneer Jesus hom genees beleef die fariseers n krisis. Pleks daarvan dat hul in die man se vreugde deel of dit selfs net erken as n wonderwerk, fokus hul op Jesus wat dit waag om iets op n Sabbat te doen. Die wonder gaan verlore.
Oppad werk toe is die paaie stil, daar heers n vreemde onnatuurlikheid. By die spreekkamer loop ons in die wereld van maskers, jasse en handskoene. Dan sien ek n paartjie wat smag na n baba en word ek deel van die wonder as ons die hartjie op die skerm hoor. Die teken van lewe, te midde van vreemde tye. N rede om te glimlag.
In die fliek Lion King herinner Rafiki my dat ons niks aan die verlede kan doen nie maar wel iets aan die toekoms. Ek lees die woorde van Victor Framkl raak op n vriendin se facebook en dit pas daarby aan: “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves. Between stimulus and response there is a space. In that space is our power to choose our response. In our response lies our growth and our freedom.”
Daar is n groot verskil om vasgevang te word tussen mure en om vasgevang te word in jou eie idees. Jy kan vry wees tussen mure as jou gees oop is om te beleef. Jy maak die keuse.
Die fariseers was die groot verloorders in die storie. Die blinde man kon regtig weer sien. N Hartkloppie styg uit bo wanhoop en vrese. N president kry dit reg om mense te laat bid. Ons kies daagliks of ons wil sien, hoor of doen. Met en sonder handskoene.
Dis ons reaksie op dinge wat bepaal of daar iets positief kan groei of nie.
“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan he, en dit in oorvloed!” Johannes 10:10.